Lees Matteus 14: 22 – 32
“…hy (het) bang geword en begin sink en uitgeroep: ‘Here, red my!’” (30).
In Die Spoorwegbode (Desember 1974) vertel Andrew Gibb van ’n sakeman, wat die gewoonte gehad het, om Sondagnamiddae in sy dorp op straat, traktaatjies te versprei. Een Sondagmiddag was hy moeg en het boonop ‘n hoofpyn gehad, en om alles te kroon begin dit reën. Hy het net nie die krag of lus gehad om straat toe te gaan. Hy sit nog met die pakkie traktaatjies langs hom, toe die deur oopgaan. Sy elfjarige seuntjie kom in. “Gaan Pappa nie vandag traktaatjies uitgee nie?” vra hy effens verbaas. “Nie vandag nie, my kind, pa voel moeg en nie lekker nie en boonop reën dit ook. Ons los dit maar vandag.” “Dan sal ek in Pappa se plek gaan,” bied die seuntjie gretig aan. “Ag, nee wat,” antwoord sy pa goedig. “As jy eendag groot is, kan jy jou pappa se werk voortsit.” “Ek wil graag gaan,” hou die oudjie aan. “Ek sal my jas en waterskoene aantrek en nog ’n sambreel ook saamvat. Toe, Pappa, assbelief.” Die man gee die pakkie traktaatjies vir die seun en maan hom om nie lank weg te bly nie en om nie met iemand wat ’n traktaatjie weier ’n argument aan te knoop nie. Daar was min mense op straat en die traktaatjies se uitgee vorder stadig. Die seuntjie volhard egter en later het hy nog net een traktaatjie oor. In die reënerige skemer sien hy niemand meer beweeg nie. Met lang treë gaan hy na die naaste huis toe. Loop met die paadjie op en klop aan die deur. Stilte. Hy klop weer. Na ’n derde poging roep ’n stem uit die huis uit: “Wie’s dit?” Hy antwoord nie, maar klop weer. Na sy soveelste poging pluk ’n vrou die deur oop. Die uitdrukking op haar gesig verskrik hom. Hy stop die traktaatjie in haar hand en hol met die paadjie af. Die volgende Sondag by die straatkapeldiens, waar hy en sy ouers ook kerk toe gaan, vra die prediker aan die einde van die diens of iemand ’n woord op die hart het. ’n Vrou staan op. Sy getuig: ”Verlede Sondagaand het God ’n klein engel na my huis toe gestuur om my van ’n gewisse dood te red. Weens eensaamheid en wanhoop, na ek my man en my seun in ’n ongeluk verloor het, en na ’n lang worsteling in my gemoed, was ek op die punt om myself op te hang, toe iemand onbedaarlik aan die deur begin klop. Ek het deur toe gegaan om die persoon weg te ja, maar dit was ’n seuntjie wat hierdie traktaatjie in my hand gestop en toe laat spaander het. “God Het Jou Steeds Lief,” het op die blaadjie gestaan. Ek het dit gaan lees en vir die eerste keer het ek besef, God het my ook lief en Christus Jesus het my duur met sy bloed gekoop. Ek het lig en redding gevind!”
“Here, vandag weet ek dat U my ook lief het.”