Lees 3 Johannes v.1,2
“…Gaius, my vriend, wat ek waarlik liefhet… Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou trou aan die waarheid vertel…”
‘n Onderwyseres gee eendag vir haar leerlinge, elkeen ‘n skoon vel papier, met die opdrag om die name van hulle klasmaats op die papier te skryf. Dan moet hulle, onder elke naam, die mooiste ding waaraan hulle oor dié leerling kan dink, neerskryf. Dit was stil in die klas terwyl elkeen bietjie rondkyk, dink en skryf. Na die klasperiode neem sy al papiere op. Daardie Saterdag, skryf sy op aparte velle papier, vir elkeen wat die ander van hulle geskryf het. Maandagoggend gee sy vir die klas elkeen hulle lys, van hulle maats se kommentaar oor hulle. Sy skryf oor hulle reaksie: Before long, the entire class was smiling. “Really?” they whispered. “I never knew that I meant anything to anyone!” and, “I didn’t know others liked me so much.” No one ever mentioned those papers in class again. The exercise had accomplished its purpose. The students were happy with themselves and with one another.
‘n Paar jaar later sneuwel Mark, een van die leerlinge, in ‘n geveg in Vietnam. Die onderwyseres woon sy begrafnis by. Die kerk was gepak met sy vriende, meeste in uniform. Een vir een het hulle by die kis verbygeloop om van hom afskeid te neem. Die onderwyseres het laaste verby geloop. Een van die soldate wat as draer opgetree het, kom na haar toe. “Was u sy onderwyseres?”, vra hy. Sy knik: “ja”. “Hy het baie van u gepraat,” sê die soldaat. Mark se pa en ma is ook daar. Hulle wag om met haar te praat. “Ons wil jou iets wys,” sê die pa. “Hulle het dit by hom gekry na hy gesneuwel het.” Hy gee vir haar ‘n vel papier wat duidelik oor en oor oopgemaak en toegevou is. Onmiddellik herken sy dit as Mark se lys oor wat sy maats van hom geskryf het. Sy ma sê: “Baie dankie dat u dit gedoen het. U kon sien dit was vir hom kosbaar.” Die ander medeskoliere van Mark begin ook naderstaan. Charles glimlag skaam: “Ek het ook nog my lys.” Chuck se vrou sê: “Chuck het gevra ek moet sy lys in ons huweliksalbum plak.” Marilyn sê: “Ek het myne ook nog. Dit is in my dagboek.” Vicki maak haar handsak oop en haal haar gehawende lys uit. “Ek dra myne oral saam waar ek gaan. Ek dink meeste van ons het nog ons lyste.” Die onderwyseres gaan sit en begin huil. Sy huil oor Mark wat dood is en oor al sy maats wat krag geput het, uit die goeie dinge wat hulle maats oor hulle geskryf het. Die skrywer van die storie sluit af: “Please, tell the people you love and care for, that they are special and important. Tell them, before it is too late.”
Die goeie wat ons van ‘n ander weet en van hulle dink, en as húlle dit weet, maak ‘n belangrike deel van ‘n goeie samelewing uit. Dit is ‘n belangrike element van die Christenlewe wat Christus by sy volgelinge soek: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê” (Joh.13:34). “Lewe in liefde soos Christus ons ook liefgehad het…” (Ef.5:2). “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind” (Kol.314). In feitlik elkeen van sy sendbriewe vermeld Paulus iemand anders se deug. Die goeie wat hy van ander geweet het, het hy bekend gemaak.
“Here, vandag dink en praat ek goed van ’n ander.”