Lees Hebreërs 4: 12 – 13
”Die woord van God is lewend en kragtig. dit is skerper as enige swaard met twee snykante…Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (12)
Dr. R. A. Torrey skryf: “Die Bybel is nie net die mees geliefde Boek in die wêreld nie; dit is ook die mees gehate Boek. Die wyse waarop iemand met die Bybel omgaan is ’n baie betroubare aanduiding van die hart se gesindheid teenoor God.” Dan noem hy ’n paar maniere waarop mense met die Bybel omgaan.
Die mens wat God onbeskaamd haat, sê hy, haat die Bybel openlik. Hy verag die Bybel, spot daarmee en sal alles in sy vermoë doen om dit vals te bewys en dit te ondermyn. Talle ateïste en agnostici dit al probeer doen.
’n Ander houding jeens die Bybel, sê dr. Torrey, is om die Bybel te respekteer, maar dit nooit te lees nie. Die Bybel word erken, maar op ’n afstand gehou. Dit is vir hom ’n vreemde en geslote Boek. Hy is nie ’n doelbewuste vyand van God nie, maar ’n vreemdeling.
Dan noem dr. Torrey die ander houding teenoor die Bybel. Die Bybel word geken en gelees, maar uit plig. Daar is nie vreugde in die omgang met God se Woord nie. Dit is ’n sware taak wat verrig moet word, want die persoon is nog nie God se kind nie, maar ’n kneg wat onder dwang staan en vrees vir straf as hy die plig van die lees van die Bybel sou verwaarloos.
Dr. Torrey noem die vierde houding: liefde vir die Woord van God. Die persoon honger na die Brood van die lewe omdat hy deur wedergeboorte God se lewe in sy hart ontvang het. Hy bestudeer die Bybel, omdat Hy God steeds beter wil leer ken. In die Bybel vind hy die Persoon van Christus. Al aanskou hy Christus in die Bybel soos in ’n spieël, bring die Heilige Gees Christus se heerlikheid in sy hart en sinne in. “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld…deur die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:17,18). So iemand verstaan die Bybel en verlang daarna soos ’n kind na sy vader se brief sal verlang. Uit die Bybel ontdek hy wat God alles aan hom belowe.
“Here, vandag wil ek U Woord met blydskap lees.”