Veilig

LEES:  Psalm 34: 16 – 23

“Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal (20).

Stonewall Jackson en sy suster moes ’n diep, sterk vloei­ende, stroom, net onderkant die Niagra­val, oor­steek, vertel Our Daily Bread.. Die stroom het hulle bootjie so geruk en rondgegooi dat die vrou verskrik geraak het. Jack­son het haar arm stewig vas­gevat en na die twee roeiers gedraai. “Hoeveel keer het julle hier­­die stroom al oor­gesteek?” “’n Paar keer per dag, die laaste twaalf jaar, Meneer.” “Ooit omgeslaan en iemand laat verdrink?” “Nooit, so iets nie, Me­neer!” Jackson draai terug na sy suster toe. “Jy het gehoor? Tensy jy dink jy dit beter kan doen, sit net stil en vertrou hulle. Hulle ken die stroom.”

So het gelowiges deur die eeue God be­kwaam en getrou in hulle dreigende omstandig­hede be­vind. Kan ek God, my Vader in Christus Jesus, in hierdie moeilikheid van my vertrou? Sal Hy weet hoe om dit te hanteer? Israel? “Die Here julle God het julle voorspoedig gemaak in alles wat julle ge­doen het. Hy het sy oog oor julle gehou in hierdie groot woestyn, en in hierdie hele veertig jaar was die Here julle God by julle en het julle niks kort­gekom nie” (Deut.2:7). Die dissipels? “Skielik het daar ’n groot storm los­gebars…Jesus het in die agter­ste­we gelê en slaap. Hulle maak Hom wak­ker…Toe staan Hy op en bestraf die wind: ‘Hou op! Be­daar!’ …daar het ’n groot stilte gekom…Toe sê Hy vir hulle: ‘Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?’” Word rustig. Bid. Vertrou.

“Here, vandag bemoedig U krag en U getrouheid my.”