Lees: 2 Korintiërs: 4:16-18
“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid … wat ewig bly.” (17)
Een winterdag was ’n koets onderweg van Deer Lodge na Misoula. Die pad het oor Flint Creek gegaan. Die enigste twee passasiers, ’n vrou en haar baba, wou in die erge koue verkluim. Die koetsier, wat hulle stip dopgehou het, het die eerste tekens van verkluiming, lomerigheid, by die vrou opgemerk. Hy het stilgehou en die vrou uit die koets getrek. Terwyl sy wankelende langs die koets staan, klim hy terug op die koets en ry weg. “My kind! My kind!” gil sy en hardloop struikelende agter die koets aan. Die koetsier hou aan met ry. Gillende hardloop sy al sterker. Die koetsier ry bietjie vinniger. Hygend hou die vrou aan met hardloop. Beurtelings roep sy na haar kind en dan skel sy weer op die koetsier. Na meer as ’n half kilometer hou hy sy perde in. Uitasem en warm kom sy by die koets aan. Hy laat haar inklim, plaas die kind teen haar warm liggaam en vou hulle met ’n warm kombers toe. Sy harde optrede het albei se lewens gered.
God bemerk gevare wat ons bedreig. Seën en goedheid sal nie die gewensde uitwerking op ons lewe hê nie. Hy plaas ons in omstandighede wat hard en pynlik is, maar dit bewerk ons redding en behoud. Sodra sy doel bereik is met die swaarkry wat Hy aan ons uitmeet, wend Hy Hom ontfer-mend tot ons om ons te troos en te seën.
So het die Here met Israel gehandel: “Ek gaan haar wingerde en haar vyebome verwoes …Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê en … ’n poort na ’n nuwe toekoms maak.” (Hosea 2:11,13,14).
”Here, ek wil vandag nadink oor my swaarkry en na U luister, sodat U my weer kan help en seën”