Lees Psalm 90
“Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe” (10).
Op `n kerkklok, in `n Vrystaatse dorpie, soos ek verstaan, is dié woorde ingraveer: Na korte dag, die lange nag; na korte tyd, die ewigheid. By ons vinnige vaart einde van die jaar toe, is ons opnuut bewus van hoe kort die tyd is en hoe vinnig dit verbygaan. `n Grysaard het my eens uit sy rystoel so aangespreek: “My lewe het soos `n droom verby gegaan Ek wou nog leef, toe is dit verby.” `n Hooggeplaasde man, prokureur en politikus, begaafd, in al sy onderneminge suksesvol, het skielik siek geword en onverwags by sy einde gekom. Om hom op te beur, deur hom oor sy prestasies te laat praat, vra `n vriend hom, hoe hy oor sy lewe voel, as hy oor sy briljante loopbaan terugkyk. Sy antwoord, as komende van `n denkende man, in die volle aangesig van die ewigheid, was treffend en onvergeetlik: “My suksesse ten spyt, voel ek nou dat my lewe `n mislukking was. Ek het nie een van die groot doeleindes waarvoor die lewe eintlik gegee is, bereik nie. Nou is dit te laat.” Ongelukkig het hy nie gesê oor watter lewenswaardes hy toe gedink het nie. Maar wat hy gesê het, kom hierop neer: `n Lewe net op die aardse bestaan gefokus, is `n lewe misgelewe. Dit is `n droewige einde.
Jesus het gesê: “…wat sal dit `n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly” (Mark.8:36). Elke mens maak sy eie lewenskeuse en die keuse van sy lewenseinde en ewigheidsbestemming. Gelukkig is dit nooit te laat om `n koersverandering te maak nie. Vir die misdadiger aan die kruis was dit `n laat uur, maar gelukkig het hy met sy vuil, mislukte verlede langs Jesus gehang. En gelukkig het hy volle gebruik van sy goeie kans gemaak. “’Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk.23:42,43). “…Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (Joh.6:37).
“Here, vandag kies ek die lewe met en by U.”