Vreemde

LEES: Handelinge 8:26-40

“Filippus het…gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees… die Skrifgedeelte wat hy gelees het was dit: ‘Soos ’n skaap is Hy gelei om geslag te word…’” (30)

’n Hond kom een aand by ’n kamp van Sjin­ese Shang­tun­soldate, ingedrentel met ’n bek vol blad­­sye van ’n Bybel wat hy iewers beetgekry het, vertel King’s Business. Die soldate beur dit uit sy bek en lees dit nuuskierig. Hulle volg die hond toe hy koers kry en kom by ’n sen­ding­hos­pi­taal in daardie om­gewing uit. Hulle vra vir meer van daardie soort leesstof. Dit is gretig vir hulle ge­gee. Dr. Goforth en ’n Sjinese evangelis besoek die kamp, hou ’n paar dienste en versprei meer lees­stof. ’n Goeie twee honderd van die soldate het agterna persoonlik met dr. Goforth en sy werkers oor hulle geloof en verlossing gepraat.

Die Bybel en evangeliese leesstof het groot krag om mense na die Here toe te trek. Die Heilige Gees gebruik die evangelie wat gepreek word of ge­lees word, om in mense se harte te werk, geloof op te wek en die Here Jesus aan hul­le bekend te maak. So word Christene in hulle gees­telike lewe versterk en onbekeerde men­se tot red­ding gebring. Mens­li­ke lippe en menslike hande is nodig om hierdie heils­middele te versprei.  Ons lippe en ons hande moet dit doen. “…na Stefanus se dood…is die gelowiges uit­me­kaar gejaag….na Fenisië, Siprus  en Antio­gië toe …die evangelie dat Jesus die He­re is, verkon­dig… Die Here het die gelowiges ge­help, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het” (Han.11:19-21). Dit is ’n groot voor­reg met groot ewige loon as die Bybel of blaadjie of traktaatjie wat u vir iemand gegee het, die middel tot een of meer mense se bekering kan lei. Ons doen verspreidingswerk; die Heilige Gees doen bekeringswerk.

“Here, vandag wil ek u evangelie aan iemand gee.”