Hulle sê dankie

Lees Efesiërs 1: 1 – 14

Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God…” (6,7).

’n Generaal van die Engelse magte en ’n Reg­ter van Indië reis op ’n besigtigingstoer deur Indië­­, vertel Power. Hulle kom in ’n behoeftige Mos­lemstreek. ’n Aantal vroue van ’n sendingstasie in die omgewing ontmoet en onthaal hulle. Die In­die­se Regter is baie beïndruk deur die netheid en vrien­delikheid van die vroue. Hy sê vir die Gene­raal­: “Ek verstaan nie dat sulke be­skaaf­­de en ont­­kelde dames, in hierdie vuil en ver­armde deel van die stad, werk nie.” “Ja, dit is regtig uitsonderlik,” antwoord die ge­­ne­raal, “tensy ’n mens natuurlik hulle motief verstaan.” “Dit is juis my probleem met hulle: hoekom doén hulle dit?” “Hulle motief is dankbaar­heid.” “Dankbaarheid! Wat het ons arm mense ooit vir hulle gedoen, om enige dank­baar­heid by hulle te verwek? Sê dít as­se­blief vir my.” “Om dit te verduidelik sal neer­kom op die belang­rike verskil tussen ons twee se godsdienste,” sê die Generaal.  “Ek sal luister,” antwoord die Reg­ter. “Ek sal dit met ’n verhaal moet verduidelik,” sê die Ge­ne­raal. “Ek luister. Ek is gretig om dit te hoor,” verseker die Regter hom. Die Generaal ver­tel van die boer wie se grond onder hom uitver­koop moes word. Hy kon nie sy skuld betaal nie. Kort te vore het hy ’n baie wel­ge­stelde buurman gekry. Net voor die uitverkoping sou plaasvind, laat die bank die ban­krot boer weet, sy buurman het sy skuld vir hom betaal.

Die Generaal sê: “Daar­die boer kon nooit op­hou om sy dankbaarheid teenoor die vreem­de buurman te betoon nie.” Die Regter knik. Die Generaal vervolg: “Ons groot skuld, wat ons verlo­re moes laat gaan, is deur Jesus Christus vír ons betaal. Ons is vry. Ons hoéf dit nie terug te werk aan Hom nie. Maar as ons dink waaruit Hy ons verlos het en die prys wat dit Hom gekos het, het ons net die diepste dankbaarheid teenoor die Here Jesus en wil ons enigiets wat ons kan vir Hom doen.”

Hierdie dankbaarheid lê aan die wortel van elke offer­vaardige optrede in belang van die evangelie van die Here Jesus Christus. Hoe duideliker die besef is van wat Christus vir ons gedoen het, en waaruit Hy ons verlos het, hoe groter  is die lewensoffer wat gebring word. Dit was die geheim van Paulus se tota­le offervaardige lewe. “…ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Gal.2:19,20).

 “Here, vandag wil ek my dankbaarheid, vir U groot gawe aan my, betoon.”