Lees Psalm 73:21-28 Ou Vertaling.
“Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie” (25).
Een aand, net met sononder, staan ek en kyk hoe motte, deur ’n sterk neonlig aangetrek, in hul menigtes in ’n elektriesgelaaide rooster vasvlieg en verskroei. Twee skoelappers kom aangevlieg. Ek hou dop wat met hulle gaan gebeur. Sonder om eers na die aantreklike lig te kyk, vlieg hulle verby, teen die ondergaande son in, na ’n akkertjie blomme toe. Blomme – nie ligte nie – is die natuurlike liefde van skoenlappers.
N. Naismith skryf, hy het ’n kort navorsing, oor hartsbegeertes gedoen. Vir ’n student vra hy watter drie dinge begeer hy die meeste. Hy het geantwoord: “Boeke, gesondheid en stilte.” Elkeen het volgens sy gedragsomgewing eie begeertes gehad. Vir ’n boemelaar was, kos, klere, en warmte, een koue oggend die belangrikste.” Die antwoorde van mense uit ‘n skare het neergekom op: “Rykdom, plesier, roem.” ’n Handearbeider het gesê: “Meer loon, meer ontspanning, meer vermaak.” Drie jongmans het vol lag na mekaar geloer en al drie het een woord geantwoord: “Meisies.” Toe vra hy vir ’n betreklik arm man wat oor ’n lang tyd die gedrag van ’n toegewyde Christen openbaar het. Hy het ook een woord geantwoord, maar toe daarop uitgebrei: “Christus. Maar ek sal dit op drie maniere sê. Ek wil graag in Christus wees, soos Christus wees en met Christus wees.” “…om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom gee ek alles prys …”(Fil.3:8,9).
’n Mens is gelukkig as die Heilige Gees hierdie gesindheid in die hart opgewek het. “Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het…Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! … in Christus…het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee…” (Ef.2:3-6).
“Here, vandag begeer ek om nader aan U te leef.”