Waar is Hy heen?

Lees Amos 4: 7 – 13 – Ou Vertaling

“…maak jou klaar om jou God te ontmoet…(12).

Die skokkende nuus het soos pyle deur die gan­ge en sale van die paleis gevlieg: Die koning is dood! Hy is dood in sy bed gevind, vertel Robert J. Morgan in Stories, Illustrations and Quotes.

“Waar is hy heen?” vra een van die koning se slimste raadgewers. “Seker hemel toe,” antwoord die ander. “Nee,” sê die eer­ste man ernstig, “ek dink nie so nie. Ek dien die ko­ning al jare lank. Ek het baie saam met hom, oral heen, op sy togte saamgereis. Hy was lief om te reis en hy het altyd uitvoerig vir sy togte voorberei en daaroor ge­praat. Ek het hom nooit oor die hemel hoor praat nie. Dit is ’n be­stemming waaroor hy nooit na­vraag gedoen het en ‘n reis waarvoor hy nooit voorsiening gemaak het nie.”

Jesus het ons gewaarsku: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Mat.7:13,14). Die jaar is halfpad. Dit is ’n gunstige tyd om ook oor ons ewigheidsbestem­ming na te dink. Hoe­kom was dit vir die Seun van God nodig om met so ’n diep vernedering aarde toe te kom en met soveel lyding te sterf? Jesus gee die antwoord aan die wat beswaar gemaak het omdat Hy die tollenaar, Saggeus, gered het: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom ..­.Die Seun van die mens het…gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:9,10). Jesus het na ons, as men­se, toe gekom om ons van die ewige dood te red. Maar in ons alle­daag­se lewe gaan ons soos die koning by Hom verby. Ons verbeur óns geleent­heid om die hemel toe te gaan.

 “Here, vandag dink ek aan my einde.”