Lees Matteus 25: 1 – 13
“Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit” (10).
In Signs of the Times, vertel G. E. Garne, hoe hy en sy vrou, op die John Kennedy-lughawe, moes kyk, hoe hulle vliegtuig sonder hulle vertrek.
Hulle het ses bedrywige weke in die V.S.A. gehad en was nou op pad huis toe, na hulle twee kindertjies toe, wat hulle in die sorg van vriende gelaat het. Hulle harte het gebrand van verlange na hulle kinders en hulle het ook gehoor hoe die kinders al na hulle verlang. Selfversekerd en opgewonde, het hulle die aand die ontvangstoonbank genader. Die ontvangsklerk het sy besprekingslys deurgegaan, sy kop geskud.
“Onmoontlik!” roep Garne uit. “Ons het weke gelede die bespreking gedoen. Daar móét ’n fout wees.” Sekerlik was daar ’n fout, maar dit was nie die lugdiens se fout nie. Dit was hulle eie fout! Hulle is uitdruklik ingelig, hulle moet ’n paar dae na die bespreking, bevestiging vra. Maar, hulle was te besig en het dit nagelaat. Buitendien was dit slegs ’n formaliteit en hulle het dit nie ernstig beskou nie. Hulle het die fout gemaak om te veel as vanselfsprekend te aanvaar. Hulle was seker alles sal op die einde vir hulle reg uitwerk. Met trane in die ma se oë en ’n knop in die pa se keel, moes hulle sien hoe die vliegtuig, op sy vaart huis toe, sonder hulle opstyg.
Daar is die baie groter teleurstelling waaroor Jesus ons gewaarsku het, sluit die verteller sy storie af: “Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie…’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af…’” (Mat.7:22,23). Die Bybel waarsku ons, om van ons roeping en verkiesing, seker te maak. Die skrywer se eie woorde: “Day by day we must make it our business to confirm our covenant with Jesus Christ. Do it today and each day until He comes. We cannot afford to be disappointed in that critical hour.”
“Here, vandag wil ek sekermaak van my ewige lewe.”