Lees Hebreërs 9:23-28
“’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel” (27).
Hoewel hy die seun was van ‘n toegewyde predikant, het Adoniram Judson tydens sy universiteitsdae ‘n ateïs as vriend gekies. Judson het so onder sy invloed gekom, dat hy kort voor lank net so ‘n lasteraar en bespotter van geloof geword het. Judson het die teater as beroep gekies en by ‘n teatergroep aangesluit. Een nag het hulle in ‘n plattelandse hotel oorgebly. In die kamer langsaan dié van Judson was ‘n man besig om te sterf. Die dorpie het nie ‘n hospitaal gehad nie. Judson moes luister na die man se kreune en uitroepe in sy worsteling met die dood. In die nanag het dit stil geword. Die volgende oggend het Judson verneem die man is dood. Tot sy verbystering moes hy uitvind dit is sy eertydse, ongelowige universiteitsmaat. Die parmantige spotter se einde het Judson verskrik. Só ‘n einde wil hy nie hê nie. Die geloofswaarhede waarmee hy in die pastorie grootgeword het, het soos ‘n vloed na hom toe teruggekeer. Met berou het hy hom tot God gekeer. Hy het die weg goed geken.
Was dit sy gelowige ouers se gebede wat hom ingehaal het? God is genadig. Dit was God se bestemming, dat hierdie wegloopskaap van die Goeie Herder, só sou inkom. Betyds het die Heilige Gees, daar in ‘n vreemde hotel, sy Verlosser Jesus weer na hom toe gebring.“…hy gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers” (Luk.15:4,5).
“Here, vandag verlang ek dat U na my toe kom.”