Weggooi klei

LEES: Jeremia 18:1-10

“Soos klei in die pottebakker se hand , so is julle in my hand…” (6)

’n Predikant wat nuut in ’n potte­bak­kers­dorp aangekom het, het ’n man wat potte­bak­ker van beroep was, by sy huis besoek. Hy was as jongman roekelose en losbandig. In die netjiese en aangename sitkamer staan  twee groot, pragtige kruike in ’n glaskas. Met opregte bewondering roep die dominee uit: “Dis pragtig. Hulle moet baie waardevol wees. Waarvoor sal jy sulke kruike verkoop?” Die man antwoord met ’n glimlag: “Hierdie twee kruike is onbetaalbaar duur. Ek sal vir geen geld in die wêreld van hulle afstand doen nie. Hulle het vir my lewensbetekenis. Jare gelede was ek ’n dronkaard, `n dobbelaar en baklei­er, wat sy siel aan die duiwel verkoop het. Eendag het ek uit nuuskierigheid in ’n evan­geliediens beland. Wat die man gepreek het, het my geskud. Op pad terug huis toe, loop ek by ’n rommelhoop verby en sien daar ’n stuk klei weggegooi lê. Ek neem dit huis toe, knie dit goed deur en maak toe hierdie twee kruike daaruit. Ek dink daarna by myself: As ek uit ’n stuk waar­de­lose, weggooi klei sulke kruike kon skep, kan God uit my verinneweerde lewe ook iets maak. Ek het net daar neergekniel en myself in God se hande oorgegee. Hy het van my ’n nuwe mens gemaak.”

Die man het nie homself probeer verbeter het nie. Dit is ’n onmoontlike taak. Hy het na Jesus gevlug. “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is….” (Ef.2:22-24).

“Here, ek wil vandag my lewe aan U oorgee.”