Vertrou en Sing

Lees Handeling 16: 16 – 35

“Teen middernag was Pau­lus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing…(24,25)

Jare gelede strand die Engelse stoomskip Stel­­­­la, in ’n hewige storm teen ‘n rotsagtige kus, vertel Roy Zuck. Twaalf vroue wat aan­boord was, is in ’n reddingsboot ge­plaas. Die onstui­mige see het die boot da­de­lik weg­gevoer. Hulle het ’n verskrikkende nag in die siedende storm deurgebring. Dalk sou hul­­le alle hoop opgegee het, as dit nie vir die Chris­ten­sange­res, Margaret Wil­liams, was nie. Sy het die verskrikte en skreeuende vroue tot be­da­ring gebring en kalm God gebid om hulle te red. Om almal se geloof te ver­sterk het sy ge­loofs­lie­dere begin sing. Deur die donker ure het haar helder stem oor die deinende bran­ders gegalm. Vroeg die vol­­­gende og­gend gaan soek ’n reddingsboot na hul­le. Die digte mis maak dit vir die le­wens­redders on­moont­lik om verder as ’n paar tree voor hulle te sien. Hulle hoor die singende stem van Mar­garet Wil­liams, wat uit die aria Elijah sing: “Oh, rest in the Lord, wait patiently for Him.” Hulle stuur op die klank van die stem af en die vroue is gered. Versterk ú geloof.

Bly by my,  Heer, terwyl die skadu’s daal;

Laat tans u lig my donker pad bestraal!

Daar is geen ander hulp of troos vir my –

Hulp van die hulpelose, staan my by!

U het my, Heer, van jongs af steeds behou,

Al was ek soms opstandig en ontrou;

Soos ek van U, was U nooit ver van my;

Wil tot die einde dan nog by my bly!

Vertoon u kruis, Heer, aan my sterwende~oog;

Skyn deur die skeemring, wys my na omhoog;

Reeds daag die lig, van aardse skadu’s vry –

O bly deur dood en lewe, Heer, by my!

 ”Here, vandag wil ek singende by U skuil”