Lees Romeine 3:21-26
“Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word…vrygespreek vanweë die verlossing deur Christus Jesus” (23,24).
Hangkop, hande diep in sy sakke, sleepvoetend en kreupel, strompel John Scott waterfront toe. Dis aand. Die donker, roerende seewater is sy bestemming. ’n Skielike, harde uitroep laat hom in sy spore vassteek: “Gekruisig! Hulle het Hom gekruisig!” Hy kyk verskrik rond. Wie het geskree? Nou sien hy die halfversteekte dokkesaaltjie. ’n Man op die verhoog is besig om te preek. Natuurlik. Dit is Sondagaand. Godsdiens en kerk het nog nooit in John Scott se lewe plek gehad nie. Vanáánd tref dáárdie woord hom in die kern van sy lewe. Hy het dit sién gebeur. Dáárdie wrede ervaring dryf hom waterfront toe.
’n Jaar tevore is hy oorlog toe. Hy is ernstig gewond. Daarna bly hy siek. Ontslaan uit die weermag, onbevoeg vir oorlog of werk, dwaal hy in Bristol se strate rond. “Niemand gee om vir my nie!” skreeu sy gedagtes. Dít en sy skokervaring, dryf hom waterfront toe.
Hy gaan die saal versigtig binne en gaan sit. Die prediker se woorde begin hom boei. Hy raak by die vertelling betrokke. “’n Paar maande gelede,” vertel die prediker, “was die Britse en Duitse magte in ’n deel van Frankryk slaags. ’n Britse soldaat het ernstig gewond in ’n bomkrater tussen die gevegslinies geval en bly lê. Sy vriend skreeu vir hulle offisier: ‘My maat lê daar! Ek gaan hom haal!’ Hy het platgeval en na sy maat toe begin kruip. In die krater sien die gewonde man hoe sy maat nader en nader kruip. Amper daar,” vertel die prediker verder, ”sien ’n vyandelike patrollie die maat. Slaan hom plat en sleep hom weg. Teen ’n houtafdak spalk hulle hom oop; kruisig hom en laat hom in die versengende hitte hang om te sterf.” Toe die prediker die woord “gekruisig” uitspreek, verdonker John Scott se gesig. Die prediker gaan voort: “Hulle het gedink die man in die bomkrater is dood en hulle het hóm met rus gelaat. In die bomkrater het die gewonde man magteloos, doodstil, alles sien gebeur: die brutale wreedheid, die gekruisigde man se lyding en stadige dood. Hy sal nooit kan vergeet hoe sy vriend sy lewe só gegee het om hom te probeer red nie.” Na ’n oomblik van stilte sluit die prediker sy preek af: “Onthou ú nog die Man wat ook só vir u gely en gesterf het? Wat het u al gedoen om u dankbaarheid en u liefde vir Hóm te bewys?”
Die diens eindig en John Scott sluip vinnig deur toe. Die prediker is ook daar en by die deur lê hy sy hand op John se skouer. “My seun, het jy al die Here Jesus, wat vir jóú gekruisig is, aangeneem as jóú redder?” “Nee,” antwoord John, “maar ek wil. Ek het nooit geweet die evangelie is oor so iets nie. Vanaand verstaan ek dit. Ek verstaan dit baie goed. U sien. Ek was die gewonde soldaat in die bomkrater. Ek het gesien hoe sterwe Bill vir my.”
Hy en die prediker kniel saam. Die prediker maak sy Bybel by Romeine 5:6 oop en lees die woorde: “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe … God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” John het geglo en Christus met ’n eenvoudige gebed as sy Verlosser aangeneem.
“Here, vandag weet ek U het vir my gesterf. Ek glo en dank U.”