Lees Johannes 16: 25 – 33
“Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie, want die Vader self het julle lief…” (26).
Sekere plaaslike regerings in Japan, gebruik ‘n toestel om die welstand en veiligheid van bejaardes in hulle gebied te monitor, skryf Neil Verwey vir ons uit Japan, na aanleiding van ’n berig in die Yumuiri News 2005-11-29. ‘n Ontvangstoestel wat met elektromagnetiese golwe werk, word in ‘n bejaarde se tuiste opgestel. ’n Welsynwerker stuur dan elke oggend ‘n boodskap uit en die bejaarde kan dan antwoord, deur net een van drie knoppies te druk: wel, onwel, of bel my. Die stadsraad van Wako, is een van die eerstes wat die stelsel by sy plaaslike tuisbestuursverenigings aanbeveel het. Hulle leen nou die toestelle aan die alleenlopende bejaardes van die stad uit. “Ons wil hê ons seniorburgers moet weet ons is bekommerd oor hulle,” spreek een van die amptenare sy besorgdheid vir bejaardes uit. “Ons wil hulle help wanneer hulle dit nodig het.”
So ‘n stelsel sal vir alle bejaardes ‘n nuttige beveiliging wees. Gelukkig het God ook vir sy kinders ‘n soortgelyke stelsel beskik. Dit word in Filippense 4:6,7 beskryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Ons geloofstelsel het ook drie knoppies: gebed, smeking en danksegging,. Die eerste knoppie word deur Jakobus 5:13 beklemtoon: “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid.” Ons het hulp en bystand van God nodig. Dus die knoppie van gebed. Die tweede knoppie word aangewys deur Psalm 50:15: “Roep my aan in die dag van benoudheid: ek sal jou uithelp….” Ons is in die moeilikheid, dit is ‘n krisis en ons het die Here by ons nodig om ons te help. Dus die knoppie van smeking. Die derde knoppie, danksegging, word deur Psalm 103:2 beklemtoon: “Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.” As dit met ons goed gaan, moet ons die Here met lof van ons laat hoor.
“Here, vandag wil ek U in al my omstandighede aanroep.”