Lees Titus 1: 1 – 4
“…dié waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe” (2).
Hoe weet ’n mens jou siel is veilig vir die ewigheid? Daar is ’n manier. ’n Skip het in ’n hewige storm, naby die kus, gestrand. Vier matrose het die rotsagtige kus bereik. Hulle het teen die rotse begin uitklouter om buite bereik van die woeste inkomende gety te wees. Tot hulle ontsteltenis besef hulle, hulle het tot op die hoogste punt, van die lae reeks rotse geklim, waar die vinnige, inkomende gety hulle tog nog kan bereik. Dit is donker. Hulle sien nie verder as hulle onmiddellike staanplekkie nie. Hulle hoor hoe die see hoër opkruip na hulle toe. Hulle is op die punt om hulle aan die genade van die branders oor te gee, met die hoop dat hulle miskien iewers hoër uitspoel, toe een van hulle, om sy ewewig op die rots te verstewig, met sy hand op `n plant druk en dit vasgryp. So nat as wat dit is, weet hy dadelik dit is nie seegras nie, maar ’n plant met ‘n wortel. Vir ’n oomblik verlig ’n weerligstraal die omgewing en hy herken die plant as seevinkel. Dit is ’n plant wat altyd hoër as die hoogwatermerk groei. Met groot blydskap lig hy sy makkers in. Hulle is veilig, die branders sal nie tot by hulle kom nie. Die eenvoudige plant, en die man se kennis van die plant, het vir hulle in hulle donker nood, veiligheid gewaarborg. Hulle het veilig op die rots bly staan, ongerieflik, maar veilig, en gehoor hoe die water later teruggaan. Na dagbreek is hulle gesien en na veiligheid geneem.
In ons lewe raas en dreig die branders van twyfel, versoeking, teleurstelling, mislukking in ons gemoed. Hoe kan ons weet ons siel is veilig vir die ewigheid? Ons het ook ’n waarborg, baie sekerder as die seevinkel. God se beloftes! Die Here se woord is ons sekerheid. Ons is geseënd om dit swart op wit te hê. Het u in Jesus Christus vir die redding van u siel vertrou? Indien só, dan, sê God, het u die ewige lewe. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12). “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). Die Heilige Gees wek in ons die behoefte na redding, na die ewige lewe; wek in ons die begrip van Jesus se plaasvervangende dood aan die kruis; wek in ons die vertroue in Jesus as redder; wek in ons die optrede om Jesus in die gedagte of met woorde, aan te neem as my Verlosser; wek in ons die versekering, nou is ek kind van God, my sonde is vergewe, ek het die ewige lewe. God belowe dit!
“Here, vandag glo ek U belofte: ek het die ewige lewe.”