LEES: Romeine 15: 7 – 13
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees” (13).
Mitridades, koning van oud-Asië, het groot vreugde geput uit die snarespel van ’n ou musikant en ook groot liefde vir hom ontwikkel. Een oggend word die ou man wakker en ontdek sy huis is gedurende die nag met allerhande kosbaarhede gevul. Goue en silwer voorwerpe staan oral op die vloer en tafels rond, bediendes beweeg om hom, gereed om sy geringste wens uit te voer, ’n pragtige purper mantel lê vir hom gereed om aan te trek en voor sy deur staan ’n sierlike koets en wag om hom te neem waarheen hy wil gaan. Vinnig begin die ou man sy verslete tas pak om pad te gee uit hierdie onbekende omgewing waarin hy hom nou bevind. Die diensknegte het moeite om hom te oortuig, dit is nou syne. Die koning het ’n ryk onderdaan se nalatenskap aan hom, die ou musikant, bemaak. Hy is nou die koning se vriend en gunsteling. Dit het lank geneem om hom te oortuig, maar toe dit tot hom deurdring, trek hy die purpermantel aan, klim op die koets, en terwyl hy paleis toe ry, juig hy hard en aanhoudend: “Dis alles myne! Dankie, my koning! Dis alles myne! Dankie, my koning!” Sy blydskap en liefde vir sy goedhartige vors het geen perke geken nie.
Dit was alles aardse rykdom waaroor hy so onkeerbaar bly was. En hy het dit ook so half en half met sy viool verdien. Hoe anders staan dit met ons: ons is onverdienstelike sondaars – nee, eintlik verdien ons straf! Al wat ons gedoen het, was om God te bedroef, teleur te stel en te onteer. Tog red God ons uit genade, skeld ons ons straf vry, en gee aan ons ’n rykdom waaroor Petrus juig: “Ons het ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel bewaar is vir ons” (1Pet.1:4). Deur die Here Jesus Christus het ‘n onbeskryflike rykdom ons te beurt geval, maar ons glo dit nie, ons juig nie daaroor nie. Daar is so min blydskap by ons as Christene, so min hartlike, warm liefde vir ons Verlosser, Jesus Christus.
“Here, vandag dank ek U en ek juig oor my rykdom in U ewige hemelse koninkryk.”