Iemand sien

Lees Psalm 11 : 4 – 7

“Die Here is in sy heilige tempel! Die Here is op sy troon in die hemel! Sy oë is oop, sy oë keur die mensekin­ers”

Twee broers het op ‘n plattelandse dorp ‘n win­kel gehad, vertel Sunday School Times. Hulle kom agter, goed verdwyn van die rakke af, veral klein items. Dit klop nie met hulle kontantregister nie. Hulle kry ‘n plan, om agter die gebeure te kom. Hulle boor van die solder af ‘n gaatjie in die pla­fon. Hulle maak beurte om die kliën­te deur die gaatjie in die plafon dop te hou. Wat hulle sien,   verstom hul­­le. Van die dorp se inwoners, ook per­sone van wie hulle dit nooit sou verwag nie, neem goed wat  nie by die betaaltoonbank vir betaling aan­ge­bied word nie. Die skuldiges is nie direk ge­kon­fron­teer en beskuldig nie. Hulle het dit net so in­di­rek bekend laat word, daar is in die plafon ‘n gaatjie,  waardeur kliënte dopgehou kan word. Die stelery het dadelik opgehou. Dit was vir hulle daar­na amusant, om te sien hoe van die kliënte ongemerk dak toe loer om die gaatjie te ontdek.

’n Mens se lewe lê oop en bloot voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy (Spr.5:21). Die wete dat die Here alles in ver­band met ons sien, be­hoort vir ons ‘n dissipline in ons lewe te bewerk, maar dit moet vir ons ook ‘n bemoe­diging wees. God sien nie net wat ons doen nie, maar ook wat met ons gebeur. God hou ons nie soos ‘n skeids­regter dop, net om te sien waar ons skeef trap nie, maar Hy hou sy oë ook op ons soos ‘n vader, om vir ons te sorg. ‘n Ma wat haar kind lief het, sien die stoutigheid en as dit nodig is straf sy haar kind, maar sy is ook baie gou om die kind te hulp te snel as daar vir die kind moeilik­heid opduik. “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (2 Kron.16:9).

“Here, vandag weet ek U sien my.”