Die vier kêrels

Lees Kolossense 3: 1 – 17

“…soek die dinge daarbo…bedink die dinge wat daarbo is” (1,2.)

Die effens komiese storie, van die meisie met die vier kêrels, het Lize Breedt en Nols en Lorraine Fourie vir my gestuur. Ek het dit ervaar as ’n storie met ’n belangrike boodskap.

Dié meisie, het 4 kêrels ge­had. Die eerste een het sy verskriklik lief gehad en al haar aandag aan hom gegee en hom gepamperlang. Die tweede kêrel het sy ook baie lief­ge­had en hy was vir haar baie werd. Die derde kêrel was vir haar ook kos­baar. Hy was haar ver­troueling en as sy ’n pro­bleem ge­had het of advies no­dig gehad het, het sy na hom toe ge­gaan. Aan die vier­de kêrel het sy haar nie eintlik gesteur nie. Hy was baie lojaal teenoor haar. Hy het groot opofferinge gemaak om haar te beskerm en haar besittings te be­waak. Sy het omtrent nooit van hom notisie ge­neem nie. Toe word die meisie siek en haar dae was getel. Sy vra die eeste een. “Ek het jou so lief en ek het so baie moeite vir jou gedoen en jou so baie ge­sken­ke gegee, gaan jy my nou help?” “Nooit!” roep hy uit en maak hom dadelik uit die voete. Sy vra haar tweede kêrel. “Ek het jou my le­we deur liefgehad. Ek het vir jou baie moeite gedoen. Gaan jy nou by my bly. Die tweede kêrel skree: “Nimmer!” Hy hol weg. Verslae wend sy haar tot haar der­de kêrel. Hy was darem altyd op­reg en simpatiek teen­oor haar.  “As ek sterf sal jy saam met my wees en my bystaan?” pleit sy by hom. “Ek kan nie,” antwoord hy. “Ek sal tot by jou graf by jou bly, maar meer kan ek nie doen nie.”  Toe hoor sy ’n stem. Dit is die vierde kêrel. Maer en ver­waar­loos staan hy daar. Vol berou sê die meisie: “Ek moes baie meer aandag aan jou be­stee het. Ek het jou so ver­waar­loos en nou is jy die enigste een wat by my sal bly.”

Dit is ’n verhaal wat in elkeen van ons se eie lewe af­speel. Ons het elkeen ook die vier geliefdes. Daardie eer­ste, meesgeliefde kêrel, is ons liggaam. Ons maak dit so lekker moontlik vir hom. Maar die liggaam laat ons by ons dood som­mer da­de­lik in die steek. Die tweede kêrel is ons be­sittings. Ons is lief vir ons geld, ons huise ons motors, ons juwele. Hierdie tweede kêrel laat ons ook sommer in die steek. Die derde kêrel is ons vriende en familielede. Hulle gaan ’n ver end saam met ons. Bly by ons sterfbed. Loop saam graf toe. Maar daar eindig ons geliefdes se by­stand. Die laaste kêrel wat omtrent nie aandag ge­kry het nie, is ons siel. Die siel gaan saam ewig­­heid toe, maar die siel kry in die gewone lewe die minste aandag en versorging. Ons moet ons orde dus omruil. Eerste ons kosbare siel. Ons moet die siel met he­melse klere van eerlikheid, liefde, geduld, geloof klee en met die Woord van God voed. Die een wat ook nie heel­temaal ge­noeg aandag gekry het nie, is ons vriende en fa­milielede. Hulle is kosbaar en verdien baie aan­dag. Na ons besittings moet ons met ver­stan­dig­heid omsien en dit ver­stan­dig gebruik. Ons moet nie toelaat dat dit oor óns heers nie. Die liggaam moet versorg word, skoon gehou en gesond gehou word. Al hierdie elemente is belangrik, maar ons siel moet nom­mer een staan. As ons siel en ons verhouding met God nommer een is, val die ander sake van ons lewensverband in die regte posisie.

“Here, vandag is my verhouding met U en u koninkryk in die hemel van eerste belang vir my.”