Uitverkiesing

LEES: Romeine 8: 26 – 39

“Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook ge­roep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik” (30).

Die bekende prediker, C. H. Spurgeon, skryf oor uitverkiesing: Op die volgende ma­nier kan jy van jou uitverkiesing seker wees. Voel jy jy is ’n verlore, skuldige sondaar? Gaan reguit na die kruis van Jesus en vertel dit vir Hóm. En sê vir Hom jy het in die Bybel gelees dat Hy gesê het: “Ek sal hom wat na My toe kom nooit uitwerp nie” (Joh.6:37). En vertel Hom dat jy ook in die Bybel gelees het: “Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wê­reld gekom het om sondaars te red (1 Tim.1:15) Kyk na Jesus, vertrou in Hom, en jy sal sekerheid kry dat ook jy verkies is tot die ewige lewe. So seker as wat jy glo, so seker is jy uitverkies. Laat vaar alle on­rus­tige vrae oor uitverkiesing. Gaan na Jesus toe, net soos jy is, hoe skuldig ookal. Skuil in sy won­de. Die Heilige Gees sal aan jou ‘n versekering gee wat jou sal laat sê: “Ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pad te bewaar tot dié dag toe (2 Tim.1:12). Gaan plaas jou vertroue in Jesus Christus. Hy was teenwoordig toe God die ewige raadsbesluit van die uitverkiesing ge­neem het. Hy sal jou antwoord: “Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid (Jer.31:3).

 “Here, vandag is ek seker U het my gered.”