Lees Matteus 10: 40 – 42
“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het” (40).
In die Spoorwegbode van Februarie 1975 vertel die skrywer, wat homself ’n Evangeliedienaar noem, die storie van Jake Woods. In sy eie woorde skryf hy:
“Ek het een aand in ’n sneeustorm,hoog op in die Rookgebergtes van Tennessee, verdwaal. Verkluim en reeds bewusteloos, dra my perd my na ’n vreemde huis toe. Toe ek weer bykom, hoor ek die geknetter van ’n vuur naby my voete. ’n Bebaarde man buig oor my en vloek, omdat hy nie my mond kan oopkry om bietjie brandewyn in my mond te gooi nie. Dit is Jake Woods.
”Ek herwin my bewussyn en herken hom as, die berugte woestaard van die omgewing. Hy het gedreig om enige prediker wat sy drumpel oorskry, te verniel. Niemand kon beter versorg gewees het as ek nie. Hy en sy vrou het my met teerheid behandel en kos gegee. Ek wou die volgende dag verder gaan, maar in my hart het ek geweet, niemand het al ooit so ’n goeie geleentheid gehad, om met die skrikwekkende Jake Woods oor sy verhouding met die Here te praat, as ek nie. Ek wou hom as blyk van dank ’n paar geldnote gee, maar hy het dit geweier. ‘Dok,’ sê hy, ‘as jy gisteraand as prediker na my huis toe gekom het, het ek jou in die koue uitgesmyt. Twintig jaar gelede, toe die Almagtige ons enigste kindjie weggeneem het, het ek gesweer ek sal nooit een van sy diensknegte oor my drumpel toelaat nie. Ek het woordgehou tot gisteraand – maar toe jou perd jou hier aanbring, kon ek jou nie wegjaag nie.’ Met bewende stem sê ek vir hom: ‘Mnr. Woods, sal jy my toelaat om uit hierdie Boek van my vir jou te lees, en met my Vriend in jou huis te praat, voor ek weggaan?’ Hy kyk na sy vrou, talm en toe sê hy: ‘Toe maar, Dok, gaan jou gang.’ Ek het vir hom uit Lukas 15 gelees oor die herder wat agter die een verlore skaap aangaan totdat hy dit vind. Ook die verhaal oor die verlore seun en sy verwelkoming toe hy tuiskom.
“Ek kom agter Jake het omgedraai en kyk my met groot oë aan. Voor my moed my begewe, val ek op my knieë en begin bid. Ek bid, en dit is asof ek die Here wil aangryp en nader trek: ‘Here, ek het gisteraand byna dood hier aangekom. Hierdie man en sy liewe vrou het my ingeneem en terug verpleeg lewe toe en hulle wil niks daarvoor neem nie. Maar vandat hulle hier woon, moet Jesus Christus met gewonde hande en ’n doringkroon voor die deur staan en klop en hulle wil nie oopmaak nie. Help vandag vir Jake Woods om sy deur vir Jesus oop te maak.’ Toe ek opstaan sit Jakes op die vloer met sy oë op die deur gerig. Hy kyk so stip dat ek ook deur toe kyk, maar ek sien niks behalwe die wit sneeu nie. Skielik sê Jakes: ‘Kom in,’ asof hy iemand innooi. Hy draai na my toe. ‘Hy het ingekom.’ Hy stap saam met my uit. ‘Dok,’ kom dit van hom af, ‘het jy nog een van daardie boeke van jou. My pa het vir ons van daardie seun en sy pa gelees. Ek sal iemand kry om dit vir my te lees.’ Ek gee hom my Bybel en toe ek wegdraai om te ry, sê hy sy ‘ou-vrou’ sal na my kom luister as ek weer in die skool kerkhou.
“Toe ek na ’n ruk weer daar ’n diens gaan hou, is daar ’n groot opkoms. Jake is ook daar. Hy kom groet my. ‘Dok, ek het hulle gebring,’ sê hy toe hy my hand druk. Ek los my voorbereide preek en gryp Lukas 19:10 as teks: ‘Die Seun van die Mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.” Toe ek my preek wil afsluit, spring Jake op. ‘Kom, mense, kom,’ roep hy. ‘Wat Dok gepreek het is waar. Ek het daardie Man self gesien toe Dok in my huis gebid het. Hy het voor die deur gestaan. In sy hande wat hy na my toe uitgesteek het, was gate. Ek het gesê hy moet inkom. Hy het ingekom. Ek was van toe af nog nooit weer dieselfde mens nie.’ ’n Diepe bewoëndheid het oor die gehoor gekom en mense het spontaan gekniel en begin bid. Dié Sondagoggend het talle tot bekering gekom.”
“Here, vandag vra ek U, kom in my lewe in.”