Geseënde Gasvryheid

Lees Matteus 10: 40 – 42

“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het” (40).

In die Spoorwegbode van Februarie 1975 vertel die skrywer, wat homself ’n Evangeliedienaar noem, die storie van Jake Woods. In sy eie woorde skryf hy:

“Ek het een aand in ’n sneeustorm,hoog op in die Rook­gebergtes van Tennessee, verdwaal. Verkluim en reeds bewus­te­loos, dra my perd my na ’n vreemde huis toe. Toe ek weer bykom, hoor ek die geknetter van ’n vuur naby my voete. ’n Bebaarde man buig oor my en vloek, omdat hy nie my mond kan oopkry om bietjie brandewyn in my mond te gooi nie. Dit is Jake Woods.

”Ek herwin my be­wus­syn en herken hom as, die be­rug­te woest­aard van die omgewing. Hy het gedreig om eni­­ge pre­diker wat sy drumpel oorskry, te verniel. Nie­mand kon beter versorg gewees het as ek nie. Hy en sy vrou het my met teer­heid behandel en kos gegee. Ek wou die volgende dag verder gaan, maar in my hart het ek ge­weet, nie­mand het al ooit so ’n goeie geleentheid gehad, om met die skrikwekkende Jake Woods oor sy verhou­ding met die He­re te praat, as ek nie. Ek wou hom as blyk van dank ’n paar geldnote gee, maar hy het dit geweier. ‘Dok,’ sê hy, ‘as jy gisteraand as prediker na my huis toe gekom het, het ek jou in die koue uitgesmyt. Twintig jaar ge­le­de, toe die Almagtige ons enig­ste kindjie weggeneem het, het ek gesweer ek sal nooit een van sy diens­kneg­te oor my drumpel toe­laat nie. Ek het woordgehou tot gis­ter­aand – maar toe jou perd jou hier aanbring, kon ek jou nie weg­jaag nie.’ Met bewende stem sê ek vir hom: ‘Mnr. Woods, sal jy my toelaat om uit hierdie Boek van my vir jou te lees, en met my Vriend in jou huis te praat, voor ek weggaan?’ Hy kyk na sy vrou, talm en toe sê hy: ‘Toe maar, Dok, gaan jou gang.’ Ek het vir hom uit Lukas 15 gelees oor die herder wat agter die een verlore skaap aangaan totdat hy dit vind. Ook die verhaal oor die verlore seun en sy verwelkoming toe hy tuiskom.

“Ek kom agter Jake het omgedraai en kyk my met groot oë aan. Voor my moed my begewe, val ek op my knieë en be­gin bid. Ek bid, en dit is asof ek die Here wil aan­gryp en nader trek: ‘Here, ek het gisteraand byna dood hier aangekom. Hierdie man en sy lie­we vrou het my ingeneem en terug verpleeg lewe toe en hulle wil niks daarvoor neem nie. Maar van­dat hulle hier woon, moet Jesus Chris­tus met gewonde hande en ’n doringkroon voor die deur staan en klop en hulle wil nie oopmaak nie. Help vandag vir Jake Woods om sy deur vir Jesus oop te maak.’ Toe ek opstaan sit Jakes op die vloer met sy oë op die deur gerig. Hy kyk so stip dat ek ook deur toe kyk, maar ek sien niks be­­hal­we die wit sneeu nie. Skielik sê Jakes: ‘Kom in,’ asof hy ie­mand innooi. Hy draai na my toe. ‘Hy het inge­­kom.’ Hy stap saam met my uit. ‘Dok,’ kom dit van hom af, ‘het jy nog een van daardie boeke van jou. My pa het vir ons van daar­die seun en sy pa ge­lees. Ek sal iemand kry om dit vir my te lees.’ Ek gee hom my Bybel en toe ek wegdraai om te ry, sê hy sy ‘ou-vrou’ sal na my kom luister as ek weer in die skool kerkhou.

“Toe ek na ’n ruk weer daar ’n diens gaan hou, is daar ’n groot opkoms. Jake is ook daar. Hy kom groet my. ‘Dok, ek het hulle ge­­bring,’ sê hy toe hy my hand druk. Ek los my voorbereide preek en gryp Lukas 19:10 as teks: ‘Die Seun van die Mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.” Toe ek my preek wil afsluit, spring Jake op. ‘Kom, mense, kom,’ roep hy. ‘Wat Dok gepreek het is waar. Ek het daardie Man self gesien toe Dok in my huis gebid het. Hy het voor die deur gestaan. In sy hande wat hy na my toe uitgesteek het, was gate. Ek het gesê hy moet inkom. Hy het ingekom. Ek was van toe af nog nooit weer dieselfde mens nie.’ ’n Diepe be­woënd­heid het oor die gehoor ge­kom en mense het spontaan gekniel en begin bid. Dié Son­dagoggend het talle tot bekering gekom.”

 “Here, vandag vra ek U, kom in my lewe in.”