Lees Matteus 13: 3 – 8 en 18 – 23
“Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ’n oes… (23)
Veertig jaar lank het ’n man, wat graag wou deelneem aan die uitbreiding van die Here se koninkryk, op ’n straathoek gestaan en allerlei evangeliese leesstof uitgedeel, vertel Peter J. Pell. Soos hy ouer geword het, het die straathoekwerk vir hom moeilik geraak en hy het buitendien geen vrug op sy saaiwerk gesien nie. Hy het opgehou. ’n Paar jaar later loop hy een Saterdagaand by daardie straathoek verby en ’n jongman gee vir hom ’n evangeliese traktaatjie. Hy gaan staan en praat met die jongman. “Hoekom is jy vanaand hier en doen jy hierdie werk?” Die jongman antwoord: “Meneer, sien, hier het gereeld ’n ouerige man Saterdagaande op hierdie straathoek gestaan en traktaatjies uitdeel. Ek het een aand een geneem en dit het my na die Here toe gelei en ek het tot bekering gekom. Dit is nou al ’n ruk lank dat die ouman nie meer hier is nie. Ek dink hy is dood en seker hemel toe. Ek het toe in my hart gevoel en wil ook vir die Here werk en ek kom neem nou maar sy plek in.” Die eerste man se oë vul met trane en hy gryp die jongman se hand. “Dit is ek wat die traktaatjie vir jou gegee het. En met God se genade gaan ek weer met my werk om traktaatjies uit te deel, begin en aanhou totdat die Here Jesus weer kom.”
Die verspreiding van evangeliese leesstof of klankbande, ’n gesprek met iemand oor die verlossing van Christus, prediking, is saad wat ons saai. Volgens Jesus se gelykenis sal baie van die saaiwerk wat ons doen tot niks kom nie, weens die aard van die hoorder se gemoed. In sommige harte gee God egter deur sy genade die wasdom en iemand word vir Christus gewen. “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganlike saad: die lewende en ewige woord van God…en hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is” (1 Pet. 1:23). Dit is baie ongelukkig as ’n kind van die Here dwarsdeur die lewe gaan, sonder om ooit iets te doen om ’n ander vir Christus te wen.
Sal dit leë hande wees, En ’n siel oor skuld bevrees,
As ek voor Hom by die groot Wit Troon moet staan?
Moet my hart vol skaamte wees, Met my naam daar uitgelees,
En my werk geen eer vir Sy geliefde Naam!
Wat ’n bittere berou, As ek daar my Heer aanskou,
Met talente wat Hy leen, deur my verbeur;
As geen siel van my kan sê; “Ek wil jou as vriend hier hê,
Want deur jou het ek die Heiland leer bemin.”
“Here, vandag soek ek geleentheid om U aan iemand bekend te maak.”