'n Swak werktuig se krag

Lees Johannes 6:1-15

“Hier is ‘n seuntjie met vyf garsbode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense (8,10).

Die uitgesproke ongelowige, William Hone, sien op ’n dag ’n seun­tjie met groot aandag sy Bybel lees. “Hoe­kom mors jy jou tyd met dáárdie boek?” vra Hone. Die kind ant­woord beleefd: “Dit is al wat my siek moeder kan troos, Meneer. Ek soek iets wat ek van­aand vir haar kan lees as sy nie kan slaap nie.” Diep geraak besluit William Hone om self die Bybel te lees. Dit het tot sy bekering gelei.  Voor in sy Bybel het hy ge­skryf:

 The proudest heart that ever beat, hath been subdued in me;

The wildest will that ever rose, To scorn thy cause or aid thy foes,

Is quelled, my God, by Thee.

Watter krag het ’n kind teenoor ’n wêreldwyse en ge­leerde man? Dit is nie ’n mens se eie krag of invloed wat ’n ander mens tot bekering kan bring nie. Dan sou net bui­tengewone mense vir die Here bruikbaar  wees. Dit is Christus se eie krag, wat deur sy Heilige Gees, deur die persoon wat Hy as sy instrument gebruik, werk, om iemand se hart te bereik. “Bewus van my swak­heid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe ge­kom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oor­tuig, nie deur geleerdheid of welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees” (1Kor.2:3,4)

 “Here, vandag vra ek dat U, met u krag, deur my werk.”