Gedurige Kontak

LEES: 2 Korintieërs 2 : 14 – 17: (Lewende Bybelvertaling)

“’n Mens kan sê die geur van Chris­tus kleef aan ons en God word daardeur geëer. Ons versprei hier­die geur on­der alle mense…vir die wat gered word, is dit ’n won­derlike geur wat ’n mens die lewe gee” (14).

Een Sondagaand kom ’n netjiese man by die kerk­deur in. Die diaken wat by die deur help, trek sy asem op en kyk die man agterna totdat hy gaan sit. Hy merk hoe die mense almal na die man probeer kyk. Hy wink ’n ander diaken nader om sy plek te neem en hy sit af kansel toe waar die dominee reeds sit. Fluis­terend sê hy opgewonde vir die do­mi­nee: “Ons het vanaand ’n snaak­se man by ons. Hy ruik die ene levental!”

Toe die dominee opstaan om die diens te begin, loer hy ook na die man toe en hy sien die ander mense het so bietjie weggeskuif van hom af. Die kin­ders het moeite om hulle lag te bedwing. Die dominee neem hom voor om na die diens met die man ’n gesprekkie te voer. Hy preek klaar en sorg dat hy by die deur kom om vir die mense ’n hand­druk te gee, soos dit die gewoonte in hulle kerk is. Toe die man by hom kom, weet hy die diaken het nie oordryf nie. ’n Oor­weldigende soet geur omring die man.

Na hy hom ’n handdruk gegee het, beur hy die man onopsigtelik eenkant toe en vra ver­sig­­tig en taktvol uit oor die man se oormatige gebruik van par­fuum. Die man glimlag verleë: “Do­mi­nee, oral waar ek kom, het ek die probleem met hierdie reuk wat ek versprei. Ek werk in ’n par­­fuumfabriek. My klere, my skoene, my hare, my vel, alles, is deur­dring met hierdie geur.” ’n Las gly van die dominee se skouers af en hy gee die man sommer weer ’n handdruk, ruik aan sy hand en sê met ’n glimlag: “Dit ruik sommer lekker, man!”

Hieruit leer ons die geheim van die  verspreiding van die heerlikheid van Christus,  soos ’n soet geur wat versprei word. Ge­du­rige kontak met Christus bring die lieflikheid van sy lewe ook in ons lewe in. Ander aangename beelde illustreer die kwa­liteit van Jesus se lewe wat deur die Christen uitgedra moet word: “Julle is die sout van die aarde….Julle is die lig van die wêreld…” (Mat.5:14).

“Here, vandag bly ek naby U en leef in U.”