LEES: Johannes 20: 24 – 30
“Daarna sê Jesus vir Thomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy…” (27)
Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog stap ‘n waardige ou man een aand in een van Londen se strate af.. Hy kom ’n soldaat teë wat pynlik op twee krukke voortsukkel. Een van sy bene makeer. Die ou man sit sy hand op die soldaat se skouer en sê met diep gevoel vir hom: “Dankie. Baie dankie, dat jy vir my gewond is.” Met blye verrassing staar die soldaat die ou man aan. Hy weet hy is onherstelbaar verwond, maar nog nooit het iemand hom daarvoor bedank nie. Met sagte stem gaan die ou man voort: “Ek wil jou graag vertel van Iemand wat vir jóú verwond is.” Verstom vra die soldaat: “Verwond vir my?” “Ja,” be-aam die ou man. “Ja gewond en verbrysel vir jou dat jy vir ewig gered kan word en aan die einde van jou lewe hemel toe kan gaan.” Eenvoudig en ernstig vertel hy hom van die Here Jesus.
Sonder Jesus se verwonding sou daar vir ons geen vergifnis van sonde kon wees nie, want “sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Heb.9:22). Daar sou geen vrede vir ons gewete gevind kon word nie, want “die bloed van Christus reinig julle gewete” (Heb.9:14). Daar sou sonder Jesus se bloed vir ons geen toenadering tot God kon wees nie, julle het naby gekom deur die bloed van Christus” (Ef.2:13). Daar sou vir ons geen saligheid gewees het nie, want “hulle het hulle klere gewas en hulle klere wit gemaak in die bloed van die Lam…daarom is hulle voor die troon van God…” (Op.7:14).
Hoeveel waarde het Jesus se lyding en verwonding aan die kruis vir ons? Kom ons gee dit ’n sentrale plek in ons gedagtewêreld, ons emosies, ons selfbewussyn. Dank Hom daagliks, vertrou daagliks in sy wonde, laat dit ons daaglikse aansporing tot toewyding aan Hom wees.
As ek die kruishout gadeslaan,
waaraan die hemelkoning hang,
Is al my pogings enkelwaan,
verfoei ek trots en selfbelang.
Kyk hoe sy hand, sy hoof, sy voet
sy smart en liefde saam vertoon;
Hoe liefde^en smart mekaar ontmoet,
hoe doringvlegsels Hom daar kroon!
“Here, vandag aanskou ek u wonde..”