Lees Eksodus 4: 1 – 17
“Moses vir die Here: ‘Ag, Here, ek kan nie goed praat nie…my tong sukkel.’… die Here (sê) vir hom… ‘Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.’” (10,11)
In sy boek, The Ultimate Contemporary Resource for Speakers, vertel Robert J. Moran van die waterdraer in Indië, wat elke dag twee kruike met water, weerskante van ’n draaghout wat hy oor sy skouers dra, vir sy meester van ’n fontein af aandra. Die een kruik is rond, heel en tot bo vol water. Die ander kruik het ’n kraak en op pad huis toe, lek die helfte van die water uit. Die gekraakte kruik voel elke dag al meer skuldig oor sy gebrek, terwyl die heel kruik blink van trots oor sy prestasie. Na ongeveer twee jaar kon die gekraakte kruik dit nie meer uithou nie. By die fontein praat hy met die waterdraer. “Ek voel skaam oor my gebrek en ek wil verskoning vra. Ek bring elke dag net ’n halfkruik water huis toe.” Die waterdraer luister simpatiek na die gekraakte kruik se belydenis en probeer hom gerusstel: ”As ons net-nou huis toe gaan, kyk liewer na al die mooi blomme langs die pad waarop ons loop.” Op pad terug huis toe sien die gekraakte kruik vir die eerste keer die groen gras en al die blomme wat langs die pad groei. Die gesig beur hom effens op, maar sy bedruktheid oor sy gebrek wil nie weggaan nie. Hy vra dus nogeens vir die draer om verskoning vir sy swak prestasie. Die draer vra vir die kruik: “Het jy opgemerk die blomme en gras is net aan jou kant van die pad? Aan die ander kruik se kant is dit kaal en droog? Ek het van jou kraak geweet en ek het saadjies aan jou kant van die pad gesaai. Elke dag oppad terug van die fontein af het jy dit natgegooi. Vir amper twee jaar kon ek pragtige blomme pluk en op die meester se tafel sit.”
Robert Morgan sluit sy storie af met die toepassing: “Elkeen van ons het ons eie gebreke. Ons is almal gekraakte kruike. Maar as ons toelaat, gebruik die Here ons gebreke om sy Vader se tafel te versier. As ons saamwerk en namate God ons roep tot take vir ons bedoel, hoef ons nie bevrees te wees vir ons gebreke nie. (Morgan se woorde) – “Go on boldly, knowing that in our weakness we find his strength. You, too, can bring beauty to His pathway!”
“Here, vandag wil ek vir U in swakheid bruikbaar wees.