Lees Markus 10: 17 – 27
“Jesus het na hom gekyk, en hom liefgekry en vir hom gesê: ‘Gaan verkoop alles wat jy het…Kom dan terug en volg My.’ Hy het egter geskrik toe hy dit hoor…en weggegaan, want hy het baie besittings gehad” (21,22).
In An Evangelic Mission Press Tract word vertel, ’n magtige Opperhoof stuur sy manne uit om oorlog te maak. In een van die dorpies woon ’n man en sy vrou en hulle seun. Hulle ontkom self aan die vyandelike magte, maar hulle seun is as ’n slaaf weggevoer. Die man troos sy treurende vrou met die woorde: “Ons wéét waar hy is. Ons sal hard werk en spaar en as ons genoeg ivoor, goud en diamante het, sal ons ons kind gaan terugkoop.” Intussen het die Opperhoof dáárdie seun as sy persoonlike slaaf aangestel. Hy hou sommer baie van die seun.
Na drie jaar se harde werk , sê die pa van die seun vir die ma: “Maak kos reg vir die lang pad. Ons gaan ons seun soek.” Na ‘n maand bereik hulle het die dorp van die vyandige Opperhoof. Hulle praat met die Opperhoof oor hulle seun. Hy is baie tegemoetkomend. “Die seun wat julle beskryf,” sê hy, “is nou my persoonlike slaaf en ek hou van hom. Hy werk baie mooi. Ek kan hom net vir julle teruggee as julle ’n groot prys vir hom sal betaal,” en hy noem die prys wat hy seker was hulle nie sou kan bekostig nie. Die ouers haal die skat uit wat hulle bymekaar gemaak het en sit dit voor die Opperhoof neer. Die Opperhoof, sy raadgewers en die hele dorp is verstom oor alles wat hulle vir hulle seun se losprys gebring het. Die Opperhoof laat die seun haal. “Ken jy hulle?” vra hy vir die seun. “Ja, hulle is my ouers,” antwoord hy verstom. “Hulle het jou kom loskoop. Kyk wat het hulle alles gebring. Ek sal jou vrystel.” Die seun raak baie ontsteld. “Hoekom het julle gekom?” skreeu hy. “Dis lekker hier. Ek het baie te eet, baie klere, baie geld, baie vriende. Meer as in julle dorp. Ek wil nie gaan nie! Ek wil hier bly!” Die ouers probeer pleit, maar hy wil van niks hoor nie. Die ouers is met groot droefheid terug na hulle dorp toe.
Na ’n lang ruk word die Opperhoof siek en sterf. Sy mense sê: “Ons sal hom nie alleen op hierdie lang reis laat gaan nie. Iemand moet saamgaan.” Een van die raadgewers sê: “Hy was baie lief vir sy persoonlik jong slaaf. Hy moet saamgaan.” Hiermee laat die manne die seun haal en vertel hom wat nou vir hom wag. Verskrik skreeu hy: “Nee, roep my pa ….!” Maar hulle gryp hom, bind hom vas en begrawe hom saam met die Opperhoof.
Dit is ‘n eenvoudige verhaal. Dalk nie eers waar nie. Soos ’n gelykenis beklemtoon dit ’n geloofswaarheid, waarvan ons goed bewus is en dalk só helderder kan begryp. Die lekker van hierdie wêreldse lewe, wat ons laat nee sê vir die groot losprys wat die Here Jesus aan die kruis vir ons betaal het, is ’n kort lekker, ’n lekker met ’n einde. En dit is ’n smartlike einde. “Die uiteinde van dié dinge is die dood…die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6: 21).
“Here, vandag soek ek die ewige lewe wat U gee.”