Stap Verby

LEES: Markus 15: 26 – 32

“En die verbygangers het Hom gesmaad…en so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot…” (29-31).

Die eerste sin van hierdie vertelling gee ek in die skrywer se eie woorde: “Sigismund Goetze`s     great painting ‘Despised and Rejected of Men’, was first dis­played in the British Royal Academy in 1904.” Die skildery is `n duidelike uitbeelding van Christus, ge­kroon met dorings en pynlik sterwend aan sy kruis. `n Menseskaar loop, sonder aandag, heen en weer by die ge­kruisigde Heiland verby. Al die afde­lings van die menslike publiek loop verby. Deftige mense, boemelaars, mense in werksklere, mense in uni­form, hulle almal stroom links en regs verby, asof hulle onbewus en ongeraak is deur die kruis en die man wat aan die kruis hang. Net een persoon in die malende mensemassa, staan stil, haar gesig na die kruis en die verworpe Figuur aan die kruis gekeer. Dit is `n verpleegster, aangetrek en toegerus om aan lydende mense hulp te gaan verleen. Vir `n oomblik huiwer sy en kyk met eerbied na die verskriklike toneel.

Nou gebruik ek weer die skrywer se woorde: “What a representation this is of Christ today – neglected, unrecognized, despised, dishonored! Is it nothing to you all ye that pass by?” Is dit regtig die houding en gedrag teenoor die gekruisigde Jesus in ons dag? Ja, hulle is nog min wat met eerbied, dankbaarheid en aanbidding na die gekruisigde Here gewend staan.

So het dit op die dag van die kruisiging ook gegaan. Markus skryf daaroor (Markus 15:29-32): “En die verbygangers het Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: ‘Ha…verlos Uself en kom af van die kruis! …ook die owerpriesters het saam gespot: ‘Ander het Hy verlos Homself kan Hy nie verlos nie! Laat…Christus, die Koning…nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo!’” Hoe is dit in ons eie hart? Watter eer het Jesus in ons harte? Verheerlik ons woorde en gedrag ons Verlosser?

“Here, vandag vereer ek U in my hart.”