Lees Matteus 5: 3 – 13
“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
'n Vrou het op haar klein plotjie, op die grens van ‘n plattelandse dorp, in Engeland, gewoon. Sy was afhanklik van haar groentetuin se opbrengs. In haar tuin het ’n perskeboom gestaan. Van die dorpseuns het lus gekry vir die boom se pragtige ryp perskes. Een nag kom hulle toe ook stilletjies vrugtesteel. Die vrou het juis dáárdie middag die boom se drag afgepluk. Sy wou dit die volgende dae verkoop. Uit wraak, omdat die vrugte afgepluk was, maak hulle die heining tussen haar en die buurman, wat met varke boer, oop en laat die varke na hartelus, met groot skade, in haar groentebeddings baljaar. Die volgende oggend kyk sy na die verwoesting in haar tuin. Sy sien ’n mes lê. Op die hef van die mes was die naam van een van die seuns uitgekerf. Sy het die seun geken. So het sy geweet wie vir haar skade verantwoordelik was. Niks het verder van die saak geword nie.
Gedurende die volgende maande kom die seën van ’n geestelike herlewing in die dorp se kerke. Mense kom tot bekering. Een van die persone wat tot bekering kom, was daardie seun, die vrugtesteler. Onder die dade waaroor hy onder sondeoortuiging kom, was die lelike misdaad in die arm vrou se tuin. In sy bekeerde hart weet hy hy moet sy wandaad aan die weduwee gaan bely. Die nuwe vryheid wat die Heilige Gees, deur sy geloof in sy Verlosser, Jesus Christus, gebring het, gee hom moed om na haar toe te gaan en alles te vertel. Sy gaan haal sy mes en sê met ’n glimlag: “Ek het geweet dit was jy en jou maats wat dit gedoen het.” “Hoekom het Tannie ons nie gaan aangee en ons vir die skade laat betaal nie?” vra hy uit die veld geslaan. Sy glimlag dieper. “Daar was ‘n beter manier.” “Wat was dit?” vra hy steeds verbaas. “Ek het vir jou en jou maats se redding begin bid. Die Here het my verhoor.”
Die vrou het soete wraak geneem! In haar hart was die wete sy het God se weg van liefde gevolg. Sy beleef die vrug van haar gehoorsaamheid: ‘n ander se bekering.
“Here, vandag wil ek aan ’n ander goeddoen.”