Onopgemerkte Seëninge

LEES: Psalm 8: 1 – 10

“…wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” (5)

Die Earnest Worker vertel die volgende in­si­dent, om ons bedag te maak op seëninge wat ons geniet, maar nie opmerk nie, omdat ons so gewoond geraak het daaraan. Op die balkon van ‘n somervakansiehotel het die be­soe­kers een aand saamgedrom om na ’n ver­ruk­like sonson­der­gang te kyk. Een man, het lank, na almal reeds weggegaan het, nog steeds na die laaste gloed aan die westerkim gestaar. Hy was dui­de­lik diep geraak deur die natuurskouspel. ’n Vrou het hom dop­gehou en hom later na sy be­sondere be­­­lang­­stelling in die sonsondergang gevra. “Jy het die sons­­on­dergang besonder geniet. Is jy ’n kunste­naar?”  “Nee,” antwoord hy, “ek is ’n lood­gie­ter. Maar ek was tot onlangs vir vyf jaar lank blind. Nou kan ek weer sien en kry nie ge­noeg na al die mooi dinge om my gekyk nie.”

’n Ander man sê hy wou kla omdat hy nie skoene het nie, toe sien hy ’n man wat nie voete het nie. Die gebrek aan sy skoene het hom nooit weer gekwel nie. Daar is dinge wat ons nie het nie en dinge wat ons nie kan ge­niet nie, maar let ons op vir dié dinge wat ons wel hét en wat ons wel kán geniet? “Wees in alle omstandighede dank­baar ….(2 Thes.5:18).”     Ons bekende ou Hallelujalied leer ons dit:

Tel jou seëninge , tel hulle een vir een,

 Seëninge jou deur God geskenk!

Tel hul almal, kyk wat God verleen,

 en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!

 Here, vandag dank ek U vir al u seëninge in my lewe.”