Lees Efesiërs 5: 6 – 20
“Leef dan as mense van die lig…Wees baie versigtig hoe julle lewe…” (8-16).
’n Christen barones, in die hoogland van Nairobi, Kenia, het `n inboorling van die omgewing in diens geneem, vertel Leslie Flynn. Hy was besonder skerpsinnig en goedgeaard. Hy het sy werk vinnig geleer en die vrou was baie tevrede met sy diens. Na drie maande, vra hy by haar ’n aanbevelingsbrief om by ’n vriendelike Sheik, wat enige kilometers verder gewoon het, werk te kry. Sy wou die knap jongman nie verloor nie en bied hom ’n loonverhoging aan. Hy verduidelik, hy gaan nie weg oor sy loon nie, maar hy weet hy moet oor sy godsdiens besluit. Hy wil nie sonder godsdiensgeloof deur die lewe gaan nie. Dit is hoekom hy vir haar kom werk het. Hy het geweet sy behoort aan die Christelike geloof en hy wou self sien hoe leef so iemand in die huis. Nou gaan hy na die Moslemman toe om te sien hoe leef ’n Moslem. Dan sal hy besluit of hy ’n Christen of ’n Moslem gaan word. Leslie Flynn skryf: “The baroness was stunned as she recalled her many blemishes in her dealings with the housboy. She could only exclaim, ‘Why didn’t you tell me at the beginning!’”
Dit is ’n betroubare toets, van die egte innerlike lewe: hoe gedra mens jou in jou eie huis teenoor jou eie mense? En veral teenoor jou minderes? ’n Mens het nie van nature so ’n goedheid in ’n jou innerlike lewe, dat Christelike gedrag daaruit voortvloei nie. Slegs as Christus se eie geaardheid, deur die Heilige Gees in ’n mens se hart ingeplant word, kan ’n mens dit ook as spontane, private lewenswyse uitleef. “Die…Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien (en)… het hulle as volgelinge van Jesus herken” (Hand.4:13).
“Here, vandag wil ek u lig laat skyn uit my lewe.”