LEES: Efésiërs 2: 4 – 10
“…God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee ons liefgehad het… lewend gemaak saam met Christus…sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade, in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus (4,5,7).”
Enige jare gelede is die wêreld se langste brug, by San Francisco, teen die koste van 77-miljoen dollars voltooi. Gedurende die aanvanklike konstruksie van die brug, is van geen veiligheidsmaatreëls gebruik gemaak nie. Drie-en-twintig werksmanne het van die brug af, na hulle dood toe, in die water, ver onder die brug, geval. Met die konstruksie van die tweede deel van die brug, is `n veiligheidsnet, teen die koste van $100 000 opgerig. Daarna het weer tien man van die brug afgeval, maar hulle is sonder beserings, uit die veiligheidsnet gehaal. Bykomstig tot hierdie voordeel, het die werk van 15% tot 25% vinniger gevorder. Die manne was nou verlos van hulle vrees vir die hoogte van die brug en die moontlikheid om na hulle dood toe te val. Die sekerheid van hulle veiligheid het die manne vryheid gegee, om al hul enegie en aandag aan die besondere taak ophande, te bestee. Die skrywer van hierdie gegewens in die Moody Monthly, sê hieroor. “Die sekerheid dat niks nou, of dinge van nog kan kom, my van Chistus se liefde kan skei nie, maak my heerlik vry en gerus om Hom met blye gretigheid te dien.”
Vrees en onrus is `n groot demper van `n mens se konsentrasie en ywer. Die veiligheid wat die Here Jesus ons gee, om nie op eie krag te steun nie, maar van Hom afhanklik te wees, maak ons vry om Hom van harte te dien.
“Here, vandag wil ek my op U troue bewaring verlaat.”