LEES: Psalm 126
“Al loop hy en huil terwyl hy die saadsak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra” (6)
In 1754 het ’n oorlog tussen die Britte en Franse in Kanada gewoed. Die Indiane het die Franse ondersteun. ’n Groep Indiane het op ’n eensame huis afgekom. Die pa, die oudste seun en twee dogters was in die huis. Hulle het die twee mans doodgemaak en die twee dogters, Barbara en Regina, saamgeneem. Regina was 9 jaar oud; Barbara was 11. Van Barbara is nooit weer gehoor nie. Regina is aan ’n ou Indiaanvrou gegee. Hier het sy gebly totdat sy 19 jaar oud was. Sy het haar opvoeding tuis nie vergeet nie. Sy het aangehou om elke aand te bid. Bybelversies wat sy geken het, het sy gedurig herhaal. Een lied wat sy geleer het, het sy wanneer moontlik gesing. “Alone, yet not alone am I, though in this solitude so drear. I feel my Saviour always nigh”. Sy het bly bid en gehoop dat die Here haar weer aan haar mense sou teruggee. In 1764 het ’n Britse kolonel die Indiane se blyplek ontdek en aangeval. Nie minder nie as 400 gevangenes kon gered word. Regina was een van hulle. Na 10 jaar onder die Indiane het meeste hulle taal en name vergeet. Hulle voorkoms het ook heeltemaal verander. Hulle het, apart van hulle ligter velkleur, soos Indiane gelyk, gepraat en Indiaanname gehad. Die kolonel het hulle geklee en gevoed en na die dorpie, Carlisle, geneem. Die nuus is wyd bekend gemaak en mense wie se kinders ontvoer was, is aangemoedig om hulle mense te kom uitken. Regina se treurende ma het nie op haar laat wag nie. Op en af tussen die rye gevangenes het sy gesoek, maar kon haar dogters nie kry nie.
In haar groot teleurstelling het sy ontroosbaar aan die huil gegaan het. Radeloos het die kolonel gevra, of daar nie iets was, soos byvoorbeeld familiename waarop die dogters sou reageer nie. Op die ingewing van die oomblik het die ma so hard as wat sy kon “Alone, yet not alone, am I…” begin sing. Skaars het sy begin sing of Regina kom singende tussen die ander uitgestorm, reg in haar ma sy arms in. Die vroeë saadjies het, ongeag die swaar tye, bly groei en die vreugdevolle vrug gedra.
In elkeen van ons se lewens kan ons die bome en vrugte raaksien, wat lank gelede in ons lewens gesaai is. In ons kinders se lewens is ook bome en vrugte van vroeë saadjies te vinde. Gelukkig as dit goeie saad was. Baie gelukkig as dit evangelie- en geloofsaad was! “Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope (Jes.44:3-5}
“Here, ek wil vandag my geleenthede gebruik om goeie saad te saai.”