Net soos ek is

LEES: Johannes 6 : 30 – 40

Elkeen wat die Vader vir my gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie” (37).

In Kingdom Evangel word vertel van ’n besoek wat die be­roem­­de Switserse evangelis, dr. Caesar Milan, bietjie meer as hon­derd jaar gelede, aan Lon­den gebring het. Hy het ’n onthaal by­­ge­­woon, waar ’n besonder talentevolle jong vrou pragtig op die kla­vier gespeel het. Sy was nie net ’n musiek­kun­ste­na­res nie, maar ook ’n digter. Na haar treffende kla­vierspel het baie van die gaste haar gelukgewens. Dr. Milan het ook hartlik sy waar­dering uitgespreek. “God het aan jou ’n buiten­ge­wone gawe gegee. Wy dit aan Hom, want Hy ver­wag dat ons die gawes wat Hy aan ons gee, weer aan Hom moet toewy.” Sy was nie godsdienstig nie. Hy kon sien sy verstaan nie wat hy vir haar probeer sê nie. Hy sê reguit vir haar: “Onthou, as jy nie jou hart vir die Here gee nie, is jy ’n ongeredde son­daar.” Net toe loop ’n ver­flen­terde bedelaar by die deur verby. Hy wys na die be­delaar en sê: “Dan is jy net so ver­lore soos daardie arme mens.” Sy vererg haar bloedig vir hom. Draai  kwaad van hom af weg. Sy kon die onthaal nie verder geniet nie en het vroegaand huis toe gegaan. Sy wou gaan slaap, maar die slaap was weg. Net die gods­man se ernstige woorde bly in haar ge­dag­te  terug­kom. Tweeuur die oggend staan sy op en kniel by haar bed en gee haar hart aan die Here oor. Charlotte Elliot het geweet Jesus Christus het in haar lewe inge­kom en vrede het haar wese vervul. Sy het opgestaan en die woorde van ’n lied geskryf wat ons nou nog sing:



Net soos ek is, geen hulp naby; alleen u bloed gestort vir my;

Getrek tot u deurboorde sy -  o Lam van God, ek kom!

Net soos ek is, ek wag nie meer;  ek kom, hoe vuil bevlek, o Heer,

En werp my aan u voete neer – o Lam van God, ek kom!

Die lied is in baie tale vertaal. Een vertaler het geskryf: “Die lied het ’n wonderlike ge­skie­denis. Dit is waarlik soos ’n blaar van die boom van die lewe.” Charlotte Eliot het in haar leeftyd 120 liedere geskryf.

“Here, vandag kom ek net soos ek is na U toe.”