Lees Hebreërs 12:1-3
“laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop (1 ).
Dr. Phillip Brooks word een oggend deur `n lidmaat besoek. Hy wil van die lidmateregister geskrap word. Hy kom nie meer in die kerk nie, het ook nie meer tyd vir gebed en Bybellees nie. Sy sakebelange eis die tol. Hy wil nie net oënskynlik ’n Christen wees nie. Dr. Brooks probeer hom teëgaan, maar die man is vasbeslote. Net toe klop ’n armoedige seuntjie aan die deur en vra angstig vir dr. Brooks om sy ouma te kom besoek. Sy is baie siek en arm. Dr. Brooks sê vir sy afvallige lidmaat: “Ek kan nie nou gaan nie. Ek moet ’n begrafnis gaan hou. Wil jy nie asseblief saamgaan en sien wat vir die vrou gedoen kan word nie.” Die man is dadelik gewillig en volg die seuntjie na ’n armoedige krotjie van ’n kamer toe. Binne in die kamertjie lê ’n blinde ou vrou in diepste ellende. Toe sy die voetstappe hoor, roep sy uit: “Ag, dankie dr. Brooks, dat u gekom het. Ek is siek en honger. Bid asseblief eers vir my.” Die afvallige man het vir ’n lang tyd nie meer gebid nie, maar hy kry dit nie oor sy hart om die ou vrou teleur te stel nie. Terwyl hy weifel smeek sy met groter dringendheid: “Bid asseblief vir my, dr. Brooks.” Die man kniel by die bed. Eers bely hy sy sonde en afvalligheid en smeek God om na sy onwaardige gebed te luister. Hy met ontroering vir haar. Toe hy opstaan sê hy vir haar: “U het seker gehoor ek is nie dr. Brooks nie, maar u het my gehelp. Wat kan ék nou vir u doen?” Sy het nie verstaan wat hy bedoel het nie, maar enige hulp sou vir haar welkom wees. Hy kyk alles deur, gaan winkel toe en koop vir die vrou alles wat nodig is. Terwyl hy dit doen word sy hart al ligter. Die hemel begin oopgaan. Hy weet God het hom nie verwerp nie, maar gee vir hom ’n nuwe geleentheid om vir Hom te lewe en te werk. Hy haas hom terug na dr. Brooks toe. “Ek wil nie meer bedank nie,” sê hy vol blydskap. “Nou wil ek vir God werk.” Hy het God prysgegee en gedink God het hom ook prysgegee. Hy het nie rekening gehou met die liefde van sy Hemelse Vader vir hom nie. God se liefde verander nie! God het sy geestelike verval op die regte manier genees. Nie rus nie, maar aktiwiteit is die genesing vir ’n gees wat flou raak. “Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word” (Heb.12:12).
“Here, vandag rig ek my op en steek my hande uit na die werk wat U wil hê ek moet doen.”