Lees Hebreërs 6: 13 – 20
“Hierdie hoop besit ons…Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan…” (19)
’n Vrou pleit by haar onverskillige man om die Kersoggend saam met haar en die kinders die Kersdiens by te woon. “Jy weet ek glo nie hierdie Jesus-storie, dat God ’n mens geword het, nie,” antwoord hy uit die hoogte. “Hoekom sou die almagtige God ’n mens wou word?” Sy en die kinders is toe alleen, warm aangetrek in die Europese koue, kerk toe. Hy sit en lees voor die kaggel .
’n Rukkie later hoor hy ’n geskarrel in die voortuin. Dit kan nog nie sy vrou en kinders wees wat al terugkom nie, dink hy. Hy staan op en gaan kyk. Dit is ’n swerm wilde eende wat teen die koue tussen die tuin se bome probeer skuiling vind. Dit is bitter koud en die wind het ook begin waai. Hy kry die eende jammer, trek sy jas aan en stap uit. Hoe kan hy hulle help? Probeer hy ’n vuur aansteek, jaag hy hulle net weg. Hy stap na sy skuur toe en maak die dubbeldeure wyd oop. Hy loop wyd om die eende en probeer hulle aankeer skuur toe. Hulle skarrel net verder weg. Hy gooi vir hulle ’n streep kos op die grond na die skuur toe. Hulle steur hulle nie daaraan nie. Wat kan hy doen? Toe kry hy ’n plan. Hy gaan haal een van sy eie, mak eende en sit die eend so naby as moontlik aan die wilde eende neer. Dadelik vat sy eend koers skuur toe. Die mak eend ken die pad. Die wilde eende volg. Toe almal in die skuur se beskutting is, draai die man om terug huis toe. Toe tref die gedagte hom: Die mak eend het vir die wilde eende die pad na die beskutting van die skuur toe gewys. Net `n eend kon dit vir ander eende doen. Jesus se evangelie begin deurdring tot hom.
Dít is die rede hoekom Jesus gekom het. Die mense wou nie na God luister nie. Hulle het God nie geken nie, Hom nie verstaan nie. Hy het sy profete gestuur, maar die mense kon só nie God en sy hemel leer ken nie. God het self, in die Persoon van Jesus, ’n mens geword, om vir die mensdom die weg na God en sy beskutting toe te kom wys.
Die Bybel beskryf duidelik die motief waarom God as mens na ons toe gekom het. Hy het ons verlore mensdom jammer gekry. Hy wou ons in Sy tuiste inbring: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16).
“Here, vandag dank ek U vir my weg na U toe.”