Lees 2 Timoteus 1:3-11
“Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie…” (8)
Dr. Harry Rimmer vertel in Miracles at Morning Cheer, van die jongman wat sy eerste nag in die militêrekamp beleef, toe hy sy diensplig in die leër begin. Hy kry sy slaapplek tussen ’n groot aantal ander jong soldate. As ’n toegewyde Christen was dit tuis sy die gewoonte, om elke aand sy Bybel op sy bed neer te sit, te kniel, sy hoofstuk uit die Bybel te lees en dan knielende, te bid. Nou, omring met ruwe manne, wat luid gesels, grappe maak, vloek, op mekaar skree, oorweeg hy om in sy bed te klim en sy Bybel ongemerk, onder die bedekking van die lakens te lees. Hy praat met homself: “Ek is ’n Christen en dissipel van ’n Meester wat ter wille van my bespot en verwerp is. Ek moet ’n getuie vir Hom wees, ook voor hierdie manne. Ek gaan doen wat ek tuis gedoen het.” Hy trek sy slaapklere aan. Haal sy Bybel uit sy tas en sit dit op die bed neer. Hy kniel en begin lees. Daarna bid hy. Binne twee minute raak dit in die barakke doodstil. Hy voel soos ’n klein goue vissie in ’n glasbak. Die middelpunt van ’n stilswyende aandag. Na hy van sy knieë af opgestaan het, begin die pratery weer, maar niemand sê ’n woord oor sy vreemde gedrag nie. Die volgende aand, toe hy sy Bybel uithaal en gereedmaak om te lees en te bid, haal agt ander manne ook hulle Bybels uit en volg sy voorbeeld. Binne ’n maand word hy ’n geliefde kameraad vir almal. Manne kom met probleme en vrae na hom toe.
Uit eie krag kan mens nie ’n getuie vir Jesus wees nie. Hy word in hierdie wêreld te veel gehaat en verag. Dit is hoe Paulus, Timoteus bemoedig het: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing….Jy dan my seun wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het… Dra jou deel van die ontberinge soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus” (2 Tim.1:7 & 2:1,3).
“Here, vandag vra ek u krag om vir U ’n getuie te wees.”