Red en word self gered

LEES: Romeine 15: 1 – 13

“…elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou” (2).

’n Avontuurlike bergklimmer wou manalleen die Alpe oorsteek. Hoog in die berg het ’n lomerigheid hom begin oorval. Hy was ervare genoeg om te weet, sy suurstof inname is nie voldoende nie en gee hy hom oor aan ’n slapie, is dit verby met hom. Wat sal hy doen? Die nag begin toesak oor die berg, die sneeuvlokkies val vinniger en die sner­pende wind waai deur hom. Hy voel hy gaan ingee en neerval om te rus, want sy ooglede dwing om toe te gaan. Hy struikel oor ’n hoop wat in die pad lê. Dit is ’n mens wat daar lê. Iemand wat reeds aan die koue oorgegee het. Hy buk en tel die on­bekende persoon op in sy arms. Hy begin die hande en polse vryf. Hy blaas sy eie asem oor die man se gesig. Hy druk die verkluimde liggaam teen sy eie warm liggaam vas. Sy eie bloed begin vinniger vloei, sy hartklop versnel, ’n warmte kom in homself. Hy weet die wrede ver­kluim­ing in sy eie liggaam word gebreek. Mense wat an­der probeer red, bevoordeel hulleself.

Dit is ook die geheim in die geestelike lewe. Belangstelling in ander, gebed vir ’n ander, ’n poging om God se Woord aan ’n ander te bring, stimuleer ’n mens se eie geestelike krag.

 "Here, vandag let ek op wie ek kan help.”