Lees Kolossense 2:8-15
“Deur dit (die skuldbewys teen ons) aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het die bose magte ontwapen…”(14,15).
Jare gelede vertel ’n Sweedse koerant hoe die koning van Denemarke, Christiaan X, op sy oggendrit te perd deur Copenhagen, ’n swastika oor ’n openbare gebou sien wapper. Dit was teenstrydig met ’n verdrag wat Hitler met sy land gehad het. “Verwyder die vlag,” beveel die koning die bevelvoerende offisier. Hy weier kortaf. “Dit bly daar. Nuwe opdrag van Berlyn af.” “Twaalfuur moet die vlag af wees, anders stuur ek ’n soldaat om dit af te haal,” verklaar die koning saaklik. “Enige soldaat wat dit waag, sal geskiet word,” waarsku die offisier. “Ek sal self daardie soldaat wees!” antwoord die koning. Die vlag is betyds afgehaal. Op daardie stadium kon die Nazis nie waag om die koning van Denemarke te skiet nie.
Die Here Jesus Christus het ook in eie persoon Satan in hierdie wêreld onttroon. Met groot woede probeer die Satan sy mag terugwin. Die Here Jesus se kerk, sy volgelinge, is Satan se teiken. Satan tas Hóm aan deur sy gelowiges aan te val. Christus het Satan egter oorwin. Elke mens wat aan Christus behoort, word deur hierdie oorwinning van Christus beskerm. “Nou het ons God, die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde (Christus)! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam…en waarvan hulle getuig het… (Opb.12:10)
“Here, ek skuil vandag onder U oorwinning oor Satan”