Die Prys van Vriendskap

LEES: Johannes 15: 9 – 17

“Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel” (14)

‘n Baie ryk vrygesel het weens sy rykdom baie vriende ge­had. Hy het laat deurskemer sy beste vriende sal goed erf wanneer hy te sterwe kom. Dit het die vriend­skappe nog hartliker gemaak. Na vele jare het hy toe ook gesterf. Dit was in die hartjie van die winter. Hy het bepaal dat hy vieruur in die og­gend begrawe moes word. Dit het toe ook in die donker voordagure, in ‘n ysige wind, met die tem­peratuur ver onder vriespunt gebeur.  Net drie mans en een vrou het vir sy begrafnis opgedaag. Met die lees van sy testament was daar egter ‘n hartlike be­lang­stelling. Die testament het gelui dat die groot nala­tenskap, eweredig verdeel moet word tussen almal wat sy begrafnis bygewoon het.

Dit is die vriendskap wat onder ongunstige om­standig­hede voort­duur wat eg is. Jesus kies vriend­skap om die verhouding tussen Hom en mense te be­skryf. Jesus word genoem: “…‘n vriend van tol­le­­naars en sondaars” (Luk.7:34). Wanneer die lewe in­kalwe en sleg word, bly Jesus by ons. Wanneer vriend­skap met sondaars vir Hom gevaarlik word en die smartlike dood aan ‘n kruis kos, dan bly Hy steeds by ons. Sy vriend­skap is op sy liefde vir ons gebou. . “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Joh.15:13). Maar ons is ook sy vriende in son­skyn van seëninge en veiligheid. En as die weg nou en steil word: bly ons sy vriende? Kan ons vir Hom opofferings maak? Sal ons skade ly vir Hom? Sal ons sy belange bevorder al wen ons niks daarby nie? ‘n Mens kan nie uit eie deug of krag só ‘n vriend van Jesus wees nie. Slegs die volheid van die Heilige Gees se inwoning in ons hart kan ons só ‘n vriend van Jesus maak. Voor Pinkster het Petrus se vriend­skap met Jesus geknak toe hy deur Jesus se vy­an­de uitgedaag is, en hy het Je­sus verloën. Na­dat Pe­trus met die Heilige Gees ver­vul is, lees ons in Han­de­linge 5:41 van hom en Jo­hannes: “Die apostels het van die Raad af weg­gegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Je­sus vernedering te ly…en hulle het nie opgehou om…elke dag…die evan­gelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.” Die Heilige Gees maak Jesus koning in ons har­te en uit liefde vir Hom bly ons aan Hom getrou.

“Here, vandag wil ék ook deur u  Gees u vriend wees.”