Lees 1 Korintiërs 1: 18 – 31
“…maar ons verkondig Christus wat gekruisig is….vir dié wat deur God geroep is… is Christus die krag van God en die wysheid van God” (23).
Die lughawe van Pittsburgh, skryf Earl C. Willer, is die grootste en bestoegeruste lughawe in die land. Dit bring ’n groot lugverkeer na die stad toe. Slegs twee minute vliegtyd van die lughawe af en direk in lyn met een van die besigste aanloopbane, staan die Union Church met sy hoë toring. ”Vandat die loopbaan geopen is,” vertel eerw. William R. Ruschaput, die kerk se leraar, “dreun vliegtuie by die kloktoring verby soos bye om ’n byekorf.” Sy eie woorde: “”It got so bad that low-flying jets, turned our Sunday evening services into sudden prayer meetings.” Die kerkraad het bekommerd geraak, omdat die kerktoring so hoog is en die vliegtuie, ter wille van die landing, so laag inkom, dat die toring raak gevlieg kan word en skade en ’n ongeluk veroorsaak. ’n Drie meter hoë neonligkruis word toe op die toring aangebring. Die kerk staan op die hoogste punt naby die lughawe. Dit bring toe mee dat die ligkruis snags, van sover as Ohio se grens af, deur die vlieëniers raakgesien word. Hieroor het eerw. Ruschaput gesê, een van die loodse het teenoor hom die opmerking gemaak: “Most of us are using it as a guide to the field.”
Die kerk met sy hoë kloktoring, so naby die aanloopbaan, was vir die vlieëniers toe nie meer ’n hindernis nie, maar ’n bate. Die kruis op die kerktoring was ’n letterlike hulp vir die vlieënier om ’n veilige landing op die aanloopbaan te maak. So moet die kerk, ook in geestelike sin, ’n seën wees vir mense, om hulle veilige landing op die aanloopbaan van die ewigheid te maak. En die kerk kry dit reg, as die kruis duidelik en hoog verhef word. Die kerk beteken die lidmate, kerkraad en leraars. As die Here Jesus Christus en sy verlossingswerk die kerk en sy mense se middelpunt van getuienis en aandag is, wek die Heilige Gees in mense se harte, die verligting van geloof, wat ’n veilige aankoms in die ewigheid verseker.
“Here, vandag wil ek, deur u Gees, ’n verligte kruis uit my lewensgedrag laat skyn.”