Lees Johannes 3: 1 – 21
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (16).
Elizabeth Barrett se ouers het haar onterf en alle bande met haar gebreek, toe sy met Robert Browning getroud is. Van haar kant het sy haar verhouding met haar ouers probeer red. Elke week het sy vir hulle geskryf, vir hulle vertel hoe lief en hoe nodig sy hulle het, hoe sy na hulle verlang, hoe dit met haar in haar huwelik gaan, watter mooi vooruitsigte sy en haar man het.
Vir tien jaar het sy nooit van hulle gehoor nie. Toe op ‘n dag kry sy deur die pos ‘n groot kartondoos van hulle af. Uitgelate van blydskap maak sy die groot doos – ‘n versoeningsgeskenk het sy gedink – opgewonde oop. In die doos was al die briewe wat sy in die tien jaar aan hulle geskryf het. Nie één was oopgemaak nie! Hierdie liefdesbriewe van Elizabeth Barrett het ‘n onskatbare deel van die Engelse klassieke-literatuur geword. Maar die doel waarvoor sy dit geskryf het en die pragtige einde wat die storie kon gehad het, is nooit bereik nie, enkel omdat die ouers nie een van die briewe gelees het nie.
Ons verhouding met ons Hemelse Vader is ook gebreek – van ons kant af. In sy groot liefde het ons Vader ook aan ons geskryf. Die Bybel is God se brief aan ons, hoe lief Hy ons het, hoe Hy vir ons die pad terug na Hom toe voorberei het, hoe ons na Hom toe kan kom. ‘n Hele boek, hoofstukke op hoofstukke, bladsye en bladsye, verse op verse. Hy verlang na ons versoening met Hom. Hy skryf oor sy liefde vir ons, wat Hy vir ons wil doen, hoe dit tussen ons en Hom moet wees. “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees” (Rom15:4).
Die groot oorsaak van geestelike armoede, swakheid, duisternis, is die ongeopende Bybels. As ons die Bybel met soekende hart lees, verlig die Heilige Gees ons hart en ons leer deur die Here Jesus Christus, God ken as ons Vader wat ons liefhet en vir ons sorg.
”Here, vandag open ek u Woord met dankbaarheid en verlange om U met my te hoor praat.”