Lees Matteus 10: 26 – 31
“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie” (29,30).
Die eerste week van Desember 1950 het die lidmate van ‘n klein gemeente in Noord-Ierland, tot aksie oorgegaan om hulle kerkie, wat in ‘n verwaarloosde toestand was, vir Kerfees skoon te maak en op te knap. Twee dae voor Kersfees tref ‘n storm die dorpie en maak hulle handewerk feitlik tot niet. In die muur, voor in die kerk, word die nuwe pleistering wat ‘n diep kraak in die muur moes bedek, feitlik weggestroop. Die volgende dag, die dag voor Kersfees, bring die gemeentelede hul besems en borsels en probeer om die kerkie so goed moontlik reg te kry vir die Oukersaanddiens, dáárdie aand. Juis daardie oggend, oppad kerk toe, om self hand by te sit met die regmakery, stap die predikant by ‘n veiling verby. Vir ‘n klein bedraggie koop hy ‘n pragtige geborduurde, vyf meter lange, tafelkleed. Dit sou die kraak in die muur mooi bedek en was ook ‘n versiering vir die muur.
By die kerk gekom, word sy aandag getrek deur ‘n vreemde, eensame vrou wat met hang skouers voor die kerk staan. Hy nooi haar saam met hom in die kerk in en laat haar solank op ‘n bank sit, terwyl hy, die kleed wat hy gekoop het, voor die kraak probeer drapeer. Toe hy die kleed oopvou en laat afhang, kom die vrou met ‘n kreet regop. “Dit is myne!” roep sy uit. “Kyk in die hoek staan my drie voorletters. Dit was ‘n geskenk van my man.” Sy vertel vir die predikant sy en haar man het in Viënna gewoon. Met die oorlog het hy in ‘n konsentrasiekamp beland. Sy het Engeland toe gevlug. Haar man is in die kamp dood, het sy verneem. Sy is juis nou op pad terug na haar tuisdorp toe. Sy het in die predikant se dorpie, by `n welgestelde gesin, vir `n werk as goewernante vir die kinders, aansoek kom doen. Sy het die pos nie gekry nie. Sy wou die tafelkleed nie terug neem nie. Dit dien `n goeie doel om die kraak in die kerkmuur te bedek.
Na die Oukersaand-diens kom ‘n man met die predikant praat. Hy wys na die tafelkleed en sê aangedaan: “Ek het daardie tafelkleed in Viënna vir my vrou gegee. In die oorlog is ons van mekaar geskei. Ek het later verneem sy is in ‘n konsentrasiekamp dood. Ek woon nou hier. Daardie kleed ontroer my ten diepste.” Die predikant luister het met groeiende opgewondenheid na die man. Hy vertel hom hoe die vrou die oggend gereageer het toe sy die tafelkleed sien. Hulle wil nou dadelik met haar in aanraking kom, maar die predikant besef hy het nie haar adres geneem nie. Hy kon gelukkig die welgestelde gesin se naam onthou en húlle kon die vrou se adres dadelik verstrek. Die predikant en die man is sommer nog dieselfde nag na die dorp toe waar die vrou woon. Dit was ‘n vreugdevolle herontmoeting en vir hulle twee die beste Kersfees ooit. Die man en vrou was albei Christene. Hulle het toegewyde lidmate van daardie gemeente geword. Die kleed het lank teen die muur bly hang, as versiering, maar ook as getuienis van God se goedheid en getrouheid aan sy kinders in tye van nood. Die kerkie het die naam gekry: “Die Tafelkleedkerk.”
God wat ons liefhet weet wie ons is en waar ons ons bevind en hoe ons lewensomstandighede loop. Ons omstandighede word soms soos ‘n spinnekopnes opgeknoop. God wat uit liefde vir ons sy Seun gestuur het om ons lewens reg te maak, en wat selfs weet hoeveel hare op ons hoof is, kan ons lewens regbuig as dit aan Hom oorgegee word. Kersfees herinner ons aan God se liefde.
“Here, vandag hoop ek met blydskap op U hulp.”