Lees: Handelinge 16: 22 – 34
“Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin (31)
In die ou geestelike tydskrif, Het Zoeklicht, word vertel van ’n Bybelkolporteur wat eendag in 1855, in Toulon, ’n Nuwe Testament aan ’n soldaat gee wat dit aanneem, met die opmerking, “Ek kan my pyp daarmee aansteek.” Jare daarna is die kolporteur weer in Toulon. Hy besoek ’n gesin wat in rou oor hulle seun wat dood is. Sy ma sê vir die kolporteur: “Ons seun het in groot vrede gesterf. Hy het al sy troos in hierdie boekie gevind.” Sy gee vir die kolporteur ’n verslete Nuwe Testament. In die binne omslag staan geskrywe: ”Ontvang in Toulon – verag – verontagsaam – gelees – geglo – Jesus Christus as my Saligmaker gevind.” Dit was daardie soldaat se Nuwe Testament. Hy het betyds die regte ewigheidsverbinding gemaak.
In ’n Spoorwegbode word vertel van twee mans wat op ’n spoorwegstasie in ’n rytuig klim, terwyl die rangeerdery nog aan die gang is. ’n Spoorwegman kom vra hulle om in die volgende rytuig te klim. Ergerlik wil die een man weet wat dan verkeerd is met die rytuig waarin hulle reeds sit. Die spoorwegman glimlag en antwoord: “Daar is niks met die rytuig verkeerd nie. Dis net aan niks gekoppel wat julle iewers sal bring nie.” Min van ons het nié ’n geloofsposisie of godsdiens nie. Die belangrike vraag is egter: “Sal dit my in die ewige saligheid bring?” Dit is nie die geloofsbinding wat ’n mens in die hemel bring nie, maar ’n mens se persoonlike verbinding met Jesus Christus wat ’n mens red. Sonder die persoonlike verbinding met die Here Jesus Christus – ek het Hom as my persoonlike Verlosser aangeneem – kan ’n mens godsdienstig wees en baie Bybelkennis hê en goeie dinge doen, maar ’n mens is nie vir die ewigheid gereed nie. Dit is dan wel ’n rytuig wat op die spoor staan, maar dit is nie aan die lokomotief gekoppel nie. Die reddende verbinding met Christus Jesus is die glo en weet: Hy het my sondes aan die kruis gedra, my aangeneem en aan my die ewige lewe gegee, want ek het sy roeping geantwoord en Hom as my Verlosser aangeneem. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”
“Here, vandag neem ek U aan as my Verlosser.”