Lees 2 Korintiërs 6:1-11 Die Lewende Bybel
“Ons gee niemand enige aanstoot nie…in elke opsig laat ons ons ken as diensknegte van God..deur die betoning van die teenwoordigheid van die Heilige Gees, deur opregte liefde…” 3,6.
’n Groep koloniste uit New Zealand het per geleentheid per skip Engeland toe gereis om familie en vriende te besoek. By die laaste hawe, voordat hulle hul bestemming sou bereik, het hulle almal vir hul mense telegramme gestuur oor hoe laat hulle die volgende dag sou aankom. Hulle boot vaar voorspoedig met die Kanaal op. Teen middag sak digte mis oor hulle toe. Die kaptein gooi anker. Uur na uur lê die skip daar. Dr. W. F. Boreham was een van die passasiers. Gewoond daaraan dat sy ongeduld in ’n situasie botoon voer, soek hy die kaptein op en sê vir hom: “Kaptein, dit is darem ‘n uiters tergende situasie. Ons het ons mense laat weet hoe laat ons aankom; Dit gaan darem vir hulle baie ongerieflik wees om soveel ure by die dokke op ons te wag.” Die kaptein antwoord: “Dr Boreham, u bevind u op ‘n 10 000 ton lynboot. U wil hê ek moet in die mis vaar en die klein bootjies soos bruin papier voor my opfrommel. Nee, ons het ander om aan te dink!”
Soms het ons in ’n situasie ’n meerdere gesag en ons kán óns wil en óns sin laat geld tot skade of ongerief van ander. In so geval verloën die Christen homself en dink aan die ander wat ook betrokke is. “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Fil.2:3,4).
“Here, ek wil vandag ander se belange bo myne stel.”