Lees Johannes 6:34-40
“…en Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (37).
Die bekende prediker, D. L. Moody, preek een aand in Philadelphia. Amper heelvoor, aan die linkerkant, sit ’n jong vrou, haar oë op hom gerig, asof sy elke woord indrink. Onmiddellik na die diens gaan hy reguit na haar toe. “Is jy ’n Christin?” vra hy haar. “Nee, maar ek wens ek was een. Ek soek al drie jaar na die Jesus.” “Daar moet iewers ’n misverstand wees,” antwoord Moody haar. Sy kyk vreemd na hom. “Glo jy my nie?” “Ongetwyfeld het jy gedink jy soek na Jesus,” sê Moody, “maar dit kan nie drie jaar lank neem, voor ’n ernstige soeker en ’n gewillige Verlosser, mekaar vind nie.” “Wat moet ek dan doen?” vra sy. “Ek dink dit is waar die fout lê: jy probeer iets doen. Jy moet net in Jesus glo.” “O, ek is siek en sat vir daardie woord!” roep sy uit. “Dis altyd net: ‘Glo, glo, glo!’ Ek weet nie wat dit is nie.” Moody antwoord: “Kom ons verander die woord ‘glo’ na ‘vertrou’. As jy Hom vertrou, daadwerklik, sal Hy jou red.” Sy huiwer ’n oomblik, sê toe met nadruk: “Ek vertrou Jesus, maar,” voeg sy in dieselfde asem by, “ek voel niks beter nie.” “A, nou verstaan ek,” reageer Moody dadelik. “Vir drie jaar soek jy na ’n nuwe en ander gevoel, in plaas van net na Jesus te soek. Jy vertrou Jesus nou om jou te red en Hy het belowe om jou te red as jy hom vertrou, so, aanvaar dit dat Hy jou nou gered hét en moenie vir ’n gevoel soek nie. Vertrou net, sê vir die Here dankie dat Hy jou gered het, soos Hy beloof het, en getuig daarvan.”
Ons wil die vrede en blydskap ervaar, wat ons verwag, met geloof in Christus moet saamgaan. Vrede en blydskap is nie die bewys van redding nie, maar ’n vrug, ’n gevolg van redding. Sommige mense se bekering is ’n onmiddellike, dramatiese ervaring. Vir ander is dit ’n bedaarde, asof dit nie gebeur het nie, ervaring. Dit is soos die huwelik. Die bruidegom en die bruid is nog ongetroud, al staan hulle saam voor die kansel. Dan antwoord die bruidegom “ja” op die huweliksgelofte. Nou is die bruid nog nie met hom getroud nie. Dan antwoord sy “ja”, en dan is sy met hom getroud. Vir sommige bruide bring dit ’n opwelling van emosie te weeg, vir ander is dit asof dit nie eers gebeur het nie. Maar vra vir die bruid onmiddelik, na sy “ja” geantwoord het, en sy sal sê sy is nou getroud. Nie omdat sy getroud voel nie, maar omdat sy die huweliksformulier glo en weet, sy het die bruidegom as haar man aangeneem. Later volg allerlei gevoelens. Dit is hoe die geloofstap van vertroue in Christus as Verlosser ook verloop. ’n Mens wéét jy het Jesus aangeneem as Verlosser en Hy het belowe, Hy néém jou aan en Hy vergewe jou jou sondes. Uit Die Boodskap haal ek Romeine 10:8-10 aan: “Ek vertel vir mense dat God hulle vryspreek. Ek roep hulle ook op om dit te glo. Dit is baie maklik om gered te word. Al wat jy moet doen, is om te erken dat Jesus die Here van jou is en met alles in jou te glo dat God Hom uit die dood laat opstaan het. Geloof is om God op sy woord te glo. Dit is om vir Hom te sê: ‘Ek glo in Jesus. Hy is die Here van my lewe.’ God sal vir die res sorg: Hy sal jou vryspreek van al jou sondes, jou red. Die Bybel sê mos: ‘Niemand wat in God glo, sal ooit met leë hande wegstap nie.’”
“Here, vandag weet ek U het my gered.”