Lees: Romeine 8: 12 – 17
“Die Gees…laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak… (15).
Steve Flaig, van Grand Rapids, Michigan, het gewéét hy is ‘n aangenome kind. Op sy 18de verjaarsdag besluit hy om uit te vind, wie sy regte ma is, vertel Rev. A. Sargent die storie wat Neil Verwey vir my (in Engels!) per internet uit Japan stuur. Sy aangenome ouers, Pat en Lois Flaig, het hom in sy voorneme gesteun. Pat Flaig het by D.A.Blodgett for Children, die agentskap wat Steve se aanneming hanteer het, vir agtergrond inligting aangeklop. ‘n Paar maande later kry hy Steve se eie ma se naam, Christine Tallady. Sy was enkel en baie jonk toe Steve gebore is. Sy het die aannemingsrekord laat oop bly, met die hoop haar seun sal eendag na haar soek.
Na Steve sy eie ma se naam gekry het, het hy op die internet na haar woonadres begin soek. Sonder sukses. Na vier jaar ontdek hy hy spel haar naam verkeerd as Talladay, terwyl sy Tallady is. Toe hy Tallady in die rekenaar intik, kry hy haar adres. Minder as ‘n myl van Lowes Store, waar hy werk, af. Opgewonde vertel hy dit vir sy baas by Lowes Store. Verbaas sê sy baas: “Bedoel jy Christine Tallady, wat hier werk?” Steve was stomgeslaan. Steve sê hieroor: “For the next several weeks I would walk by her, look at her from a distance, not knowing how to approach her. Should I just walk up to her and say, ‘Hi, I’m Steve, your son.’ What if she rejected me?” En toe, op Vrydag 14 Desember 2007, ontmoet Steve en Christine, wat mekaar al so lank op ‘n afstand ken, mekaar as moeder en kind! “It was a tearful and joyful reunion,” sê Steve later hieroor.
Rev. A. Sargent bring hieroor, hierdie boodskap na ons harte toe: “Toe jy en ek gebore is, het ons op grond van die skepping aan God behoort. Ons deel aan die sondeval het ons van God geskei. ‘Julle sondes het julle afgesny van God. Hy het weggedraai van julle. (Jes.59:2)‘ Maar God het Homself en sy liefde, vir ons, deur sy Woord aan ons bekend gemaak. Hy verlang ons moet Hom soek. ”God se doel (met ons is) om Hom te soek. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie” (Hand.18:27). Hy het sy Seun aan die kruis laat sterf vir ons sondes sodat ons met Hom herenig kan word.
As ons God net op ‘n afstand ken, soos Steve en sy ma, kan ons deur die Here Jesus Christus as ‘n eie kind naby aan God kom. Vertrou in Jesus as u Verlosser. Sê vir Hom, hardop of in u hart: “Here Jesus, red my, asseblief.” En word ‘n naby kind van God deur sy Gees in u hart.
“Here, vandag vertrou ek in U vir my redding.”