Lees Johannes 1: 1 – 14.
“In die begin was die Woord…en die Woord was God…En die Woord het vlees geword…(1,14)
Na die kommuniste se oorname van Sjina in 1949, is die Engelse sendeling in Tibet, Geoffrey T. Bull, deur die kommuniste gevange geneem en met hulle saamgevoer. In sy boek, When Iron Gates Yield, beskryf Bull sy veeleisende tog oor die bevrore berge, as ‘n gevangene onder hulle wrede bewaking. Een aand gaan hulle ’n klein bergdorpie binne. Hy kry ’n solderkamer om in te slaap. Die kamer was verrassend skoon en ’n konka met smeulende kole versprei ’n aangename hitte in die kamer. Hy wou hom net aan die weelde van die skoon, warm kamer oorgee, toe die wag op hom skreeu om die perde in die stal te gaan voer. Hy klouter af stal toe. Daar was dit pikdonker en baie koud. Die mis en strooi op die vloer kraak onder sy skoene. Die perde staan met hangende sterte en maanhare steunend aan pale vasgemaak.
Hy skryf: “Koud, moeg, alleen en siek, begin ek vir myself jammer voel. In die donker daal dit skielik in my denke: Dit is Kersaand. (Nou sy eie woorde). I stood suddenly still in that Oriental manger. To think that Jesus came all the way from heaven to some wretched eastern stable, and what is more, to think that He came for me.” Die indruk wat die koue, nat, stinkende stal op hom gemaak het, na die geringe weelde van sy verwarmde solderkamertjie, laat hom vra, of ons die vernedering en ongerief en selfs afstootlikheid van ’n Oosterse stal en vuil krip, waarheen Christus van sy hemeltroon af gekom het, in gedagte, hou as ons óns Kersfees vier?
Ons vreugde met Kersfees moenie gedemp word nie, want die engel se boodskap aan die herders in die Betlehemsveld bly waar: “…ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap … Vandag is daar vir julle…die Verlosser gebore, Christus die Here! En…julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê” (Luk.2:10-12).
“Here, vandag loof ek U vir Kersfees.”