Lees Filippense 4:1-9
“Die Here is naby . Moet oor niks besorg wees nie…” (5,6).
Wilson Pitner het te perd deur ’n woud gery. Hy sien ’n wingerdstok, met ranke so dik soos sy arm. Hy kyk op. Die wingerd is ’n goeie tien meter of meer hoog, vasgerank aan die tak van ’n eikeboom. By die voet van die hoë wingerd was ander wingerdstokke, klein en plat met los rankies na alle kante toe. “Ja,” sê hy vir homself, “ek sien wat die verskil maak. Die hoë wingerd het al vroeg die eikeboom se stam vasgegryp. So is dit met my ook. Ek is geneig om teen die grond te wees: moedeloos en mistroostig. Maar as ek God vasgryp en aan Hom vashou, en my ranke om die dik takke van sy beloftes in sy Woord slaan, rig ek my op en ek voel getroos en sterk.”
Baie keer kry ons Dawid ook op so ’n swak plek, maar dan word hy weer deur die Here se beloftes in die Here sterk gemaak. “Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my. My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry… maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand…Hoe groot is u goedheid: dit is altyd daar vir dié wat U dien, U bewys dit… aan die Here kom die lof toe, want Hy het sy trou op wonderbaarlike wyse aan my betoon…U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het…Wees sterk en hou goeie moed, julle almal wat julle vertroue in die Here stel” (Ps.31:10-25). Hierdie deur van hulp staan ook gedurig vir óns oop. Die Here Jesus se verdienste aan die kruis het vir ons die weg na die genadetroon toe oopgemaak. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons…En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is…(Rom.8:26,27)
“Here, vandag voel ek swak. Ek gryp U vas om my te help.”